Skoolseun 17 van Uitenhage bloei dood ná hy in bors gesteek is

’n Skoolkind van Uitenhage het Maandamiddag ná skool in sy skoolklere doodgebloei toe hy in sy bors gesteek is.

Die leerling (17) van die Spesiale Skool Bergsig het omstreeks 14:00 buite die skool in Ross Gradwellstraat glo ’n onderonsie met ’n persoon of persone gehad, waarna hy in die bors gesteek is.

“Leerlinge wat die seun sien bloei het, het die personeel geroep, en hulle [die personeel] het hom na die hospitaal gehaas.

“Die leerling is egter net voor die hospitaal dood,” sê kapt. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder.

Sy sê na wat beweer word is die leerling slegs een keer in die bors gesteek, en sal ’n lykskouing gehou word om die moontlikheid te bevestig.

Die polisie het tot gistermiddag laat die toneel vir leidrade gefynkam, maar het teen 17:30 nog niemand vir die leerling se moord aangekeer nie.

“Dit is nog onbekend wie die leerling gesteek het, asook wat die moordwapen was. In dié stadium kan ons net sê dit was ’n skerp voorwerp,” sê Swart.

Die motief vir die moord is ook nog onbekend.

Deon Wolmarans, skoolhoof, het nie gistermiddagop oproepe of boodskappe gereageer nie.

Twee ander onderwysers van die skool het wel die voorval bevestig.

Edmund van Vuuren, lid van die portefeuljekomitee oor onderwys in die provinsie, het by navrae gesê dat hy wel van die voorval bewus is en dit ten sterkste veroordeel.

“Van ons kant af kan ons net ons innige meegevoel aan die arme ouers oordra.

“Dan, aan die onderwysers en leerlinge, ek pleit by julle om nie ’n dowe oor vir probleme tussen leerlinge te hou nie. Meld dit aan en maak seker die probleme word opgelos.

“Probleme wat binne die skool ontstaan, moet dadelik in die kiem gesmoor word, aangesien dit gewoonlik ná ure na buite die skool sal oorspoel,” het Van Vuuren gesê.

Artikel 2

Verdagte aangekeer ná moord op tiener

Die polisie het ’n jong man in hegtenis geneem weens die moord op ’n tiener van Uitenhage.

Dillen Davids (17) van die Bergsig Spesiale Skool is Maandag omstreeks 14:00 ná ’n stryery buite die skool met ’n skerp voorwerp in sy bors gesteek. Hy is op pad na die hospitaal dood.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê ’n verdagte (19) is Maandag omstreeks 23:00 by sy huis in Kamesh in hegtenis geneem. Swart sê die verdagte is nie ’n leerling van die skool nie.

Die polisie het teen Dinsdagoggend na nog twee verdagtes gesoek. “Die polisie sal nie rus tot al die verdagtes weens die moord in hegtenis geneem is nie,” sê Swart.

Die verdagte sal Donderdag op ’n aanklag van moord in die landdroshof in Uitenhage verskyn.

Brig. Laurence Soekoe, bevelvoerder van die Uitenhage-polisiekantoor, het die polisie vir hul spoedige optrede en inhegtenisneming van die eerste verdagte geloof.

“Die polisie sal alles moontlik doen om die res van die verdagtes ook aan te keer,” sê Soekoe.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!