Skorsing van SABC-joernaliste ‘raak almal’

Johannesburg. – Die skorsing van joernaliste by die SABC is in belang van alle Suid-Afrikaners, meen dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die saak behels “meer as arbeidsregte” en raak twee belangrike kwessies aan: vryheid van spraak en watter inligting in die openbare belang is, sê hy.

Solidariteit verteenwoordig twee van die geskorste SABC-joernaliste, Foeta Krige en Suna Venter.

 Krige, uitvoerende regisseur van Kommentaar en die nuusprogramme Monitor enSpektrum, Venter, senior RSG-regisseur, en Thandeka Gqubule, die SABC se sakeredakteur, is Donderdagmiddag geskors nadat hulle op ’n nuusvergadering kapsie gemaak het toe hulle verbied is om oor betogings van die Right2Know-veldtog teen SABC-sensuur te berig.

“Dit strek oor taalgroepe en dit is ’n kwessie wat elke Suid-

Afrikaner raak. Ons gaan soveel moontlik groepe, individue en meningsvormers betrek wanneer ons hierdie saak aanpak om te wys dat Suid-Afrika kan saamstaan oor ’n kwessie wat ons demokrasie bedreig,” sê Hermann.

Rapport het gister berig joernaliste by die openbare uitsaaier weier om polities plofbare stories te doen of kritiese vrae op die lug te vra nadat hul drie kollegas verlede week geskors is.

Jacques Steenkamp is die jongste SABC-joernalis wat sy profielfoto op Facebook verruil het vir een waar sy mond met kleefband toegeplak is.

Krige se dogters, Dalaine en Jamaine, het soortgelyke foto’s op Facebook geplaas.

Hermann ag die joernaliste se skorsings as ’n “kraak in die grondwetlike bestel”.

“Ons dink die probleem is by die oorspronklike opdrag wat gegee is. Die probleem is nie by die werknemers nie, maar hoër op. Dis ’n opdrag wat nie uitgevoer kan word nie en wat ons demokrasie sal benadeel.”

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se sentrum vir billike arbeidspraktyke, sê hulle gaan eers met die partye konsulteer voordat hulle verdere stappe doen.

“Ons meen die skorsing is onbillik en dit moet so vinnig moontlik opgehef word. Ons kyk ook na die aansoeke by die Onafhanklike Uitsaai-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) van die Right2Know-veldtog en ander.”

Hermann is bekommerd oor die tendens van amptenare wat hul mag as “sterker as die Grondwet” ag.

“Die hele idee van ’n grondwetlike staat word beveg. Elke burger het ’n plig om te keer dat ons in ’n situasie beland waar die oorspronklike mag nie in die uitvoerende gesag lê nie.”

Bron: Netwek 24


 

Enjoyed this post? Share it!