Skote klap in Hillbrow-teater in Johannesburg – Een dood, talle beseer

Hy het skaars die gebou verlaat toe hy die skote hoor.

“Ek het eers nie gedink dit kom van binne die teater nie. In Hillbrow hoor jy maar gereeld skote – en wie sal in elk geval in ’n teater skiet?” sê Malvin Dube, senior bestuurder van die Hillbrow-teater in Johannesburg.

Binne die teater was dit ’n warboel toe ’n onbekende man omstreeks 02:00 Sondag tydens die musiekgroep Allen se vertoning op die verhoog geklim en op ’n gehoor van sowat 120 mense losgebrand het.

Een persoon is dood en agt beseer, het lt.genl. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, bevestig.

“Die skieter het vanuit die niet verskyn,” sê Phakana Nkomo van Underground Entertainment en organiseerder van die vertoning wat ’n geldinsameling vir die sanger Allen Ndoda Ndlovu se nuwe album was.

Die gehoor was glo meestal in hul twintigs.

“Dit het gedurende Allen se kort pouse gebeur. Die man het op die verhoog gespring en oor die mikrofoon beveel dat die konsert moet stop. Hy het ’n rewolwer in sy hand gehad,” vertel Nkomo.

Volgens Nkomo het die vermeende skieter gesê iemand in die gehoor het sy selfoon gesteel en hy het die persoon beveel om na vore te kom. “Toe niks gebeur nie, het hy ’n skoot in die dak gevuur. Die skare het histeries geword. Hy het toe nog ’n skoot net bo die gehoor se koppe geskiet. Konsertgangers het teen daardie tyd al onder hulle stoele ingeduik,” vertel Nkomo.

“Toe raak hy wild. Hy het net in die skare begin inskiet en uitgehardloop. Ek weet hy het ’n musikant van ’n ander band in die been gewond, wat in daardie stadium in die gehoor gesit het. So ver as wat hy gehardloop het, het hy blindelings teruggeskiet en nóg mense gewond.”

Volgens Nkomo het alles so vinnig gebeur dat daar nie eens tyd was om te wonder waarom die man op die verhoog is nie.

Dube vertel die skietery het begin die oomblik toe hy uit die teater stap.

“Ek was ’n minuut lank uit. Toe ek besef die skote kom vanuit die teater, het ek teruggehardloop. Die skietery was toe reeds verby en ek het die laaste lede van die gehoor beveel om die teater te verlaat. Die skieter was reeds weg en die vertoning was op sy einde. Ek het toe ’n gewonde vrou wat agter die verhoog weggekruip het met noodhulp gaan bystaan. Dis eers toe almal uit is wat ons besef het daar lê ’n dooie man in die teater,” sê Dube.

Volgens Nkomo het die paniekbevange gehoor uit die teater gestorm.

“Ons het nog nooit so iets oorgekom nie,” sê Dube. “Ek weet nie hoe dit kon gebeur nie. Die teater is deel van ’n woonstelblok. Behalwe vir die woonstelblok se sekuriteit, het ek omtrent tien ekstra veiligheidswagte gehuur. Daar was ook twee ondersoekpunte – een by die woonstelblok se groot elektroniese hek en een by die teater se ingang.”

Die beseerdes is almal na die naaste hospitaal geneem.

Die polisie was kort ná die voorval op die toneel.

Volgens Dlamini is niemand al in hegtenis geneem nie, maar die polisie volg alle leidrade op en het reeds moontlike verdagtes.

Teen Sondagmiddag was daar steeds bloedkolle in die ontvangsarea. Die koeëlgate was duidelik sigbaar in die teater se deure.

Die Hillbrow-teater is ook ’n gemeenskapsprojek wat naskoolse dramaklasse vir kinders in Hillbrow aanbied.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!