Skudding vee Italië plat

 Reddingswerk in sommige gebiede in Italië wat vroeër die week deur ’n aardbewing getref is waarin minstens 278 mense dood is, is gestaak omdat hoop om meer oorlewendes op te spoor, vervaag het.

Drie dae nadat die aardbewing die bergagtige hartjie van die land getref het, het snuffelhonde en nooddiensspanne Vrydag voortgegaan om die dorp Amatrice, wat deur die aardbewing platgevee is, te fynkam, maar daar was geen teken van lewe onder die puin nie.

“Net ’n wonderwerk kan ons vriende lewend van die rommel terugbring, maar ons hou aan grawe omdat daar baie vermistes is,” sê Sergio Pirozzi, burgemeester van die dorp.

“NET ’N WONDERWERK KAN ONS VRIENDE LEWEND VAN DIE ROMMEL TERUGBRING.
Sergio Pirozzi

Hy sê sowat 15 mense, insluitend kinders, kon nog nie opgespoor word nie. Omtrent nie een gebou in Amatrice is van die aardbewing gespaar nie.

Dié dorp is verlede jaar as een van die mooiste ou dorpe in Italië aangewys en inwoners is veral bekend om hul plaaslike kookkuns.

Die rede vir die wydverspreide vernietiging is dat die meeste van die geboue in die Amatrice-gebied honderde jare gelede, lank voor enige anti-seismiese bouregulasies, opgerig is.

Reddingswerkers het opgehou om in nabygeleë plekke soos Pescara del Tronto te werk nadat al die inwoners daar opgespoor is.

Italië het intussen ’n nasionale roudag afgekondig. Minstens 400 mense word nog in hospitale vir hul beserings behandel en 40 van hulle is in ’n kritieke toestand.

Oorlewendes wat nêrens heen het om te gaan nie, slaap in blou tente wat netjies in rye naby hul vernietigde dorpies staan.

Die regering het belowe om die streek te herbou, maar sommige plaaslike mense is bekommerd dat dit nooit sal gebeur nie.

“Ek is bang ons dorp en ander dorpe soos dié sal doodgaan,” sê Salvatore Petrucci (77) van die nabygeleë dorpie Trisunga.

“Die meeste mense bly in elk geval nie meer hier rond nie. In die winter is die dorpe so te sê leeg. Ons kan dalk die laastes wees wat in Trisunga bly.”

Italië is op twee foutlyne geleë wat dit een van Europa se seismies aktiefste lande maak.

Amper 30 mense is in 2012 in aardbewings in noordelike Italië dood, terwyl meer as 300 mense in die L’Aquila-ramp dood is.

Matteo Renzi, die premier van Italië, het ’n noodtoestand in die streek afgekondig.

Hy het belowe om die huise wat vernietig is, te herbou en gesê dat hy pogings sal hernu om Italië se swak maatreëls teen aardbewingskade te versterk.

“Ons wil hê dat daardie gemeenskappe ’n kans kry om ’n toekoms te bou en nie net herinneringe nie,” het hy in Rome gesê. – Reuters

Bron: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!