Slagtings teen Boervolk vir honderde jare, tot vandag toe, deur Brittanje en Inboorlinge…


Vanaand lees ek graag artikels wat ek gevind het op ‘n boervolk werf wat ek vanaand gebruik met persoonlike komplimente van die eienaar van die blad. Baie Dankie ondere andere vir Theunis en Jan vir al julle werk.

Dit handel oor van die verskillende veldslae waaroor mens gewoonlik niks van geweet het nie waarvan ek ‘n paar geneem het om te deel en dis vir my wonderlik om met jou te kan deel vanaand

Slag van Boshof

slagvanboshof

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG – Gedurende 1895 bedank Georges Henri Anne-Marie Victor de Villebois-Mareuil (1847-1900) as Kolonel van die Eerste Buitelandse Legioen van die Franse Weermag. Hy arriveer in Mosambiek op 22 November 1899. Toe hy by die Boerekommando’s aansluit, word hy aangestel as Generaal van die Internasionale Kommando.

De Villebois-Mareuil word toe militêre adviseur van die Oranje-Vrystaat se kommando’s. Hy voer bevel oor ‘n groep van ongeveer 75 buitelandse vrywilligers wat bestaan uit Franse, Duitsers, Nederlanders en Amerikaners en 11 Boere om ‘n brug oor die Modderrivier, sowat 30 km suid van Boshof, op te blaas. Op 05 April 1900 loop hulle ‘n Britse mag van 750 man met 4 veldkanonne raak onder bevel van Lord Methuen. Gedurende die Veldslag van Boshof, na ongeveer 3 ure se gevegte en terwyl die kommando terugval, sterf De Villebois-Mareuil onder kanonvuur.

Die plek waar hy volgens oorlewering gesterf het, is op die plaas Middelkuil, 10 km van Boshof op die Bosvarkpad, waar daar ‘n gedenkteken vir hom opgerig is. Hy is oorspronklik in die dorp se begraafplaas begrawe, maar is later verskuif na Magersfontein.

Georges-Henri-Anne-Marie-Victor-de-Villebois-Mareuil

Georges Henri Anne-Marie Victor de Villebois-Mareuil (1847-1900)

 

 

Slag van Nooitgedacht

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG – Die Slag van Nooitgedacht het op 13 Desember 1900 tydens die Tweede Vryheidsoorlog plaasgevind op die plaas Nooitgedacht. Nooitgedacht is aan die suidekant van die Magaliesberg, ongeveer 30km noordwes van Krugersdorp geleë. Hier het kommando’s van die drie Boere generaals, Koos de la Rey, Christiaan Beyers en Jan Smuts ‘n Britse mag, onder beheer van Generaal-majoor RAP Clements, ‘n gevoelige neerlaag toegedien. Die Boerekommando’s was ongeveer 2500 man sterk en die Britse mag was 2000 man sterk. Die Boerekommando’s het oor vyf kanonne beskik en die Britse mag het oor 10 kanonne beskik.

nooitgedacht

VOORBEREIDING

Op 12 Desember 1900 het Generaal Beyers die Magaliesberg by Boschfontein gekruis en kragte met die ander twee generaals saamgesnoer. Die drie generaals het vanaf die kruin van die Magaliesberg die Britse kamp bespied en gesien dat daar tekortkominge in die verdediging van die Britte was. Hul plan was dat Generaal Beyers die Britse mag op die kruin van die berg met 1000 Burgers sal aanval, en dat Generaals Smuts en De la Rey die Britse magte, wat onder die berg gevestig was, met 700 Burgers elk sou aanval. Van die Britse magte, op die kruin, het weerskante van ‘n ravyn gekamp.

DIE SLAG

Omstreeks 03:30 die oggend, het Generaal De la Rey se Burgers die eerste skote geskiet. Generaal Beyers se Burgers het om 5:00 tot die slag toegetree en om 7:00 was die Britse Magte op die kruin verslaan. Die Boere kon toe vanaf die bokant van die berg op die Britse mag skiet. Die meeste Britse soldate het op die vlug geslaan na die fort by Vaalkop.

ONGEVALLE

Die Boere verliese was as volg: 32 gesneuweldes en 46 was gewond; terwyl 109 Britse soldate gesneuwel het, 186 was gewond en 35 was gevange geneem. Die Boere het ook 70 waens met voorraad, 200 tente, 700 perde en muile, 500 trekosse en baie ammunisie gebuit. Generaal Clements kon daarin slaag om te ontsnap nadat Burgers onder Generaal Smuts, versuim het om die enigste ontsnaproete af te sny.

 

Slag van Moedwil

koosdelareyperd

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG – Op 30 September 1901 het Generaal Koos de la Rey, Generaal Jan Kemp en hulle Wes-Transvaalse kommando’s ‘n Engelse leër-afdeling onder bevel van Kolonel RG Kekewich by Moedwil aangeval en verniel.

Hierdie Engelse leërafdeling was deel van ‘n aksie om Wes-Transvaal skoon te vee en om so die einde van die oorlog te verhaas. Op 07 Augustus 1901 het die Engelse opperbevelhebber, Kitchener, selfs ‘n proklamasie uitgevaardig waarin hy die Boere aangesê het om voor 15 September 1901 hulle wapens neer te lê anders sou hulle almal uit die land verban word. Dit was egter makliker gesê as gedaan.

Generaal De la Rey se aanval by Moedwil was in sekere sin, ‘n antwoord op daardie proklamasie. In die nag, danksy ‘n helder maan, het Generaal De la Rey sorgvuldig die Engelse kamp langs die Selonsrivier verken. Die Engelse was houtgerus want hulle het die afgelope tyd geen Boere-kommando’s opgemerk nie sodat Generaal De la Rey sy gevegsplan sorgvuldig kon uitwerk. Die geveg het om half-vyf die môre begin toe Generaal Jan Kemp en sy manne langs die rivier op beweeg het en die kamp onder die lood gesteek het. Dit het chaos in die kamp veroorsaak omdat die ry- en trekdiere verwilderd uit die kamp gevlug het.

Na ‘n geveg wat ongeveer twee uur geduur het, het die Boeremagte teruggeval. Hulle het nie net 300 perde en nog meer trekdiere gebuit nie, maar die Engelse het ook heelwat verliese besorg. Aan Boerekant het 9 man gesneuwel en 33 was gewond.

Hierdie aggressiewe optrede van Generaal De la Rey by Moedswil en sy daaropvolgende oorwinnings oor die vyand het ‘n belangrike rol gespeel om die Boeremagte weer moed te gee. Dit was ‘n skerp ommeswaai na Mei 1901 toe die leierskorps van die ZAR burgers so moedeloos was dat hulle oorweeg het om die oorlog te beëindig. Gelukkig het President MT Steyn van die Vrystaat daardie gedagte gekelder terwyl Generaal De la Rey en sy Wes-Transvaalse kommando’s ‘n nuwe vasberade gees geskep het.

Generaal De la Rey se prestasies en leierskap tydens die Tweede Vryheidsoorlog was van onskatbare waarde vir sy tydgenote. Dit is juis in die moeilikste tye van ons geskiedenis wat daar nog altyd manne en vroue na vore gekom wat opgestaan het en doelgerigte leiding gegee het.

BRON: Radio Pretoria

 

Slag van Driefontein

driefontein

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG – Die Slag van Driefontein het op 10 September 1901 gedurende die Tweede Vryheidsoorlog, tussen Laingsburg en Ladismith, teen die agtergrond van die Swartberge in die Klein Karoo plaasgevind. Dit was gedurende die guerrilla-fase van die Tweede Vryheidsoorlog toe Republikeinse Boere die Kaapkolonie binnegeval het, en Kaapse Rebelle gewerf het om die stryd teen Brittanje op eie bodem voort te sit. Dit is ‘n tragiese verhaal van verraad, onkunde, flinke militêre optrede en erge bloedvergieting.

Teen sononder van 09 September het ‘n kommando van 79 burgers, Republikeine sowel as Rebelle, onder bevel van Kommandant Pieter van der Merwe (17), die jongste Boere-kommandant van die ABO, op Driefontein aan die voet van die Swartberge aangekom. Die plaas is nog daar en een van die huisies, wat ‘n eeu gelede deel van die opstal was, staan nog.

Die kommando het dié dag egter verby die opstal gery in die rigting van Damfontein en die ander gedeeltes van Driefontein, waar Jan Langeveld en Abraham Jacobs gewoon het. ‘n Paar honderd meter aan die noordekant van Jacobs se huis, langs die pad van Laingsburg af, het die bruin man Johannes Spochter gewoon. Die huise van Langeveld en Jacobs was omring deur hoë rante van sowat 300 m op 10 hektaar, ‘n gevaarlike plek vir ‘n kommando om te oornag.

Dit is duidelik dat Van der Merwe nie geweet het nie (of is dalk verkeerd ingelig) hoe die paaie daar loop en hoe ver Laingsburg (40 km) daarvandaan was. Ook was hy onbewus van die pad wat uit die noorde verby Spochter se huis die klein vallei binnekom.

Van der Merwe het wel verwag dat die Britte hom vanuit die rigting waaruit sy kommando gekom het, sou agtervolg. Dus het hy brandwagte in daardie rigting uitgeplaas, asook in die rigting van Damfontein. Skynbaar het hy die pad verby Damfontein as die roete na Laingsburg beskou. Sy versuim om voldoende brandwagte uit te plaas, was strydig met die gebruik van die Boere.

In die nag van 09 op 10 September het ‘n plaaswerker die teenwoordigheid van die kommando aan die Britte onder Kolonel E.M.S. Crabbe aangemeld. Die werker het die soldate in die donker na die plaas gelei en hulle het in die koppe om die opstal stelling ingeneem.

Een van die burgers, J.A. Smith, skrywer van “Ek Rebelleer”, Nasionale Pers, 1939, was ‘n 14-jarige rebel van Aberdeen. Hy vertel soos volg:

Weens die misreën daardie nag het die meeste burgers in die huisies gaan slaap. Vroeg die volgende oggend, toe dit lig word, het ek opgestaan en na die tuin voor die huis gegaan om na my perde te kyk. Die toppe van die rante rondom ons was in mis gehul. In die ander huisie, honderd treë verder, het die kommandant en ander geslaap. Etlike burgers het in die boord en langs die landmuur geslaap.

Toe ek in die tuin voor die deur kom, hoor ek in die rigting van die rantjies reg voor en ongeveer driehonderd tree van my af ‘n Engelse bevel. Ek steek vas en kyk in dié rigting, maar sien niks. Dieselfde bevel hoor ek in die rigting links agter die boonste huisie waar die kommandant slaap.

Ek draai om die ander te wek. Voor ek die deur haal, skiet die Kakies ‘n bol stof voor my voete op en toe ek die deur inspring om my geweer en baadjie te gryp, kletter die koeëls voor teen die huis. Die vyand skiet so geweldig op die deur dat ons agter moet uit. Hulle storm toe ook reeds in die land tussen ons perde deur op die huis af. Ons is heeltemal omsingel.

Daar was geen agterdeur nie, net ‘n klein kombuisvenstertjie. Soos rotte moes ons agtermekaar deur klouter en elkeen wat grondvat, word van weerskante onder die koeëls gesteek.

Die hele toestand was meteens een groot verwarring. Manne hardloop in alle rigtings, sommige skiet op die aanstormende vyand en ander probeer van die perde vang wat heen en weer tussen ons deur hardloop en een na die ander getref word. Enkele burgers wat hul perde die nag vasgebind het, probeer ontvlug. Ander skuil waar hulle kan en skiet op die aanstormende en skreeuende vyand.

‘n Paar van ons hardloop na die stalletjies tussen die twee huise. Daar was die Kommandant besig om sy perd aan die teuels na buite te trek. Toe die perd se voorlyf by die deur uitkom, word hy platgeskiet. Dieselfde gebeur met die tweede. Die vyand het reeds besit van die huisie waarin ons geslaap het en Ben Smith en ene Hattingh is gevange geneem voordat hulle kon uitvlug. Hulle skiet daarvandaan op ongeveer tagtig treë na ons en roep ons toe om ons oor te gee.

Die kommandant en ‘n paar ander hardloop van die stalletjie regs om die boonste huisie en ‘n paar ander links om. Hiervandaan probeer ons die aanstormende Kakies terugskiet. Intussen storm ander Kakies van die linkerkant onder dekking van die vrugteboord, en ander neem skuins agter ons op ‘n koppie, nie honderd treë van ons af nie, posisie in.

Die digtheid van die takke van twee groot bome agter die huisie het vir ‘n oomblik dekking verleen, of altans dit vir die Kakies moeilik gemaak om op ons te mik. Dit duur egter nie lank nie of van ons op die hoek van die huis word getref. Sarel du Plessis val agter my met uitgestrekte arms op ‘n takheininkie, deurboor met koeëls en word so aanhoudend getref dat die bloed in stroompies deur die takke na benede vloei.

Die Kakies probeer om verby die stalletjie veertig treë van ons te kom, om die ander hoek van die huis waaragter ons staan te bereik. Telkemale probeer hulle, maar deins terug as ons die voorstes doodskiet.

Regs van ons, agter ‘n groot lang klip, staan Piet Rautenbach en skiet die ander Kakies terug wat regs om die stalletjie probeer storm. Bouwer, die jong Adjudant van Kommandant Van der Merwe, spring by ons agter die hoek uit en probeer ontvlug, maar word getref en kruip op hande en voete tussen my en Veldkornet Du Plessis verby, die huis in. Du Plessis, ook gewond, sukkel agter hom aan na die agterdeur. Stukke pleister val van die muur waaragter ek staan soos die Kakies skuins van agter op my skiet.

Kommandant Van der Merwe, wat met Piet Naude en Ben Burger by die ander hoek staan en met sy rewolwer die Kakies, wat uit die boord op hom aangestorm kom terugskiet, word dodelik deur die hart getref en val vooroor op sy gesig.

Op hierdie kritieke oomblik sien hulle wat by hom was ‘n paar perde by ‘n afdak langs my, en ons pluk die perde uit en jaag bloots agter die huis uit onder die geskreeu van `Hands up!’ en `Stop, you d… Dutchmen!’

Intussen het die Kakies die hele plaas omsingel en besit van die werf geneem. Oorkant van die rant uit die pad wat van Laingsburg kom, skiet hulle met die kanonne op die vlugtende burgers. Dit was tevergeefs, want die vlugtendes was toe al agter die beskerming van die rant op pad verby die opstal van Damfontein.

Smith en nog 27 ander, waarvan sommige gewond was, het gevlug en is na Seweweekspoort oor die berge na Koppieskraal in die distrik Prins Albert, waar Kommandant Gideon Scheepers later gevang is.

 

Slag van Talana

talana

TWEEDE VRYHEIDSOORLOG – Die Slag van Talana het op 20 Oktober 1899 by die Talanakoppie naby Dundee, KwaZulu-Natal tydens die Tweede Vryheidsoorlog plaasgevind. Hierdie was die eerste geveg in die Natal arena van die oorlog en ook die eerste waar die Britse troepe kakie-uniforms gedra het.

DIE GEVEG

Die geveg het op en om die Talanaheuwel (in Zoeloe beteken die naam: die rak waarop die kosbare goed gebêre is) plaasgevind. Die heuwel is 1 442m hoog. Op 20 Oktober 1899 het die Boeremagte onder bevel van generaal Lukas Meyer die heuwel beset en die Britse magte van majoor-generaal sir W Penn Symons aangeval. Symons se opdrag was juis om die steenkoolvelde teen die Boeremagte te beskerm. Symons is noodlottig gewond terwyl hulle probeer het om die Boeremagte te verdryf. Kolonel JH Yule het die bevel oorgeneem en eindelik daarin geslaag om die Boere van die heuwel af te verdryf. Dit was dus ‘n Britse taktiese oorwinning.

Traktaat tussen Retief en Dingaan

Dingaan Retief

GROOT TREK – Afskrif van die traktaat tussen Piet Retief en Dingaan gedateer 04 Februarie 1838. Dit is 10 maande later in ‘n saalsak naby Retief se stoflike oorskot gevind.

Unkuginsloave 04 Februarie 1838. [Gekorrigeer na 06 Februarie 1838 – Volgens sommige berigte is die traktaat wel op 04 Februarie 1838 onderteken en is daar 2 dae lank feesgevier tot 06 Februarie 1838, toe die massamoord op Retief se afvaardiging plaasgevind het]

Neem almal hiermee kennis dat aangesien Pieter Retief, Goewerneur van die Hollandse Emigrante Suid-Afrikaners my vee terugbesorg het wat Sikonjela gesteel het, welke vee reeds vermelde Retief nou aan my oorhandig, sertifiseer en verklaar ek, Dingaan, koning van die Zoeloes dat ek dit goed geag het om aan die reedsvermelde Retief en sy landgenote (as vergoeding vir bovermelde diens) die gebied bekend as Port Natal tesame met al die omliggende grondgebied, af te staan, te wete van die Dogeela tot aan die Omsoboebo Rivier weswaarts en van die see en noordwaarts so ver as wat die land bruikbaar mag wees en in my besit en wat ek hiermee afstaan aan hulle as hul Ewigdurende eiendom.

Die Merk XX van die Koning Dingaan
As getuies M. Oosthuijse A.C. Greyling B.J. Liebenberg
As getuies Kwana Groot raadslid Juliwanco ditto Manondo ditto

E.F. Potgieter se Sertifikaat is later hierby gevoeg:

Certiviseere dat deeze omschreevene contrakt is gevonden door ons ondergetekende by die gebeente van wijlen den heer P. Retief in Dingaansland op den 21 dag van December 1838 in een leedere Jager Zak in die vereischt zyn wy bereid dat met solemneete Eede te staaven.

E.F. Potgieter

 

Sandrivier Konvensie 1852

Sandrivierkonvensie,_paneel_27,_Voortrekkermonument,_a

BOERE REPUBLIEKE – Die Sandrivier Konvensie is ‘n ooreenkoms wat deur die Britse regering en verteenwoordigers van die Boere op 16 Januarie 1852 aangegaan en onderteken is. Andries Pretorius was die leier van die Boere verteenwoordigers en William Hogge en Moslyn Owen het die Britse regering verteenwoordig.

In die ooreenkoms is die onafhanklikheid van die Boere noord van die Vaalrivier, dus Zuid-Afrikaansche Republiek, erken. Die onderhandelings het op die plaas Boskop naby Ventersburg in die Vrystaat plaasgevind. ‘n Klipstapel met ‘n bronsplaat daarop dui die plek aan waar die onderhandelinge plaasgevind het en die traktaat onderteken is. Die verbreking van die ooreenkoms deur die Britse regering op 12 April 1877 het gelei tot die Eerste Vryheidsoorlog.

 

Manifes van die Emigrante-Boere

GROOT TREK – Manifes van die Emigrante-Boere soos uitgereik deur Piet Retief op 22 Januarie 1837 en vertaal uit Engels na publikasie in die Graham’s Town Journal van 2 Februarie 1837: ‘n Dokument is aan ons oorhandig, met ‘n versoek om publisiteit daaraan te gee, wat die oorsake uiteensit vir die emigrasie van die koloniale boere; waarvan die volgende ‘n letterlike vertaling is:

Verskeie berigte is in die kolonie versprei, klaarblyklik met die bedoeling om vooroordeel te wek in die gedagtes van ons landgenote jeens diegene wat besluit het om uit die kolonie te emigreer waar hulle baie jare ‘n reeks ergerlike en ernstige verliese gely het; en aangesien dit ons begeerte is om hoog aangeskryf te word deur ons broeders, en ons begerig is dat hulle en die hele wêreld ons moet glo dat ons nie in staat is om die heilige band te verbreek wat ‘n Christen aan sy geboortegrond bind, sonder baie grondige redes nie, is ons verplig om die volgende kort uiteensetting te gee van die oorsake wat ons beweeg om so ‘n belangrike stap te doen; en ook ons voornemens met betrekking tot ons handelswyse teenoor inboorlingstamme waarmee ons in aanraking mag kom anderkant die grens:

  1. Ons gee moed op om die kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlikie gedrag van rondlopers, wat toegelaat word om die land in alle dele te infesteer; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ‘n land wat op dié manier gekwel word deur inwendige beroeringe nie.
  2. Ons kla oor die ernstige verliese wat ons gedwing is om te ly deur die vryverklaring van ons slawe en die ergerlike wette wat daar gemaak is met betrekking tot hulle.
  3. Ons kla oor die aanhoudende plundering wat ons hier moet verduur van Kaffers en ander kleurlinge, en veral tydens die laaste inval in die Kolonie, wat die grensdistrikte verwoes en die meeste inwoners geruïneer het.
  4. Ons kla oor die ongeregverdigde blaam wat daar op ons gelê is deur belanghebbende en oneerlike persone onder die dekmantel van godsdiens, persone wie se getuienis in Engeland geglo is tot uitsluiting van alle getuienis in ons guns; en ons voorsien die gevolg van hierdie vooroordeel, niks anders as die totale ondergang van die land nie.
  5. Ons is vasbeslote om, waar ons ookal mag gaan, die regverdige beginsels van vryheid hoog te hou; maar terwyl ons sal sorg dat niemand in ‘n toestand van slawerny gehou word nie, is ons ook vas beslote om sodanige wette daar te stel wat misdaad sal onderdruk en ‘n behoorlike verhouding tussen heer en diensbode sal bewaar.
  6. Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om ‘n rustiger lewe te lei as wat ons tot hiertoe gedoen het. Ons sal geen volk molesteer nie en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie; maar as ons aangeval mord, sal ons ons ten uolle geregverdig beskou om ons persoon en eiendom tot die uiterste te verdedig teen enige vyand.
  7. Ons maak bekend dat, wanneer ons vir ons toekomstige leiding behoorlike wette neergelê, afskrifte daarvan na die Kolonie gestuur sal word vir algemene informasie; maar ons neem hierdie geleentheid tewens om te verklaar dat dit ons vaste besluit is om voorsiening te maak vir summiere bestraffing van alle verraaiers wat daar onder ons mag wees.
  8. Ons stel ons voor om in die loop van ons trek, en wanneer ons aangekom het in die land waar ons permanent gaan woon, die inboorlingstamme in te lig oor ons voornemens, asook ons begeerte om in vrede en in ‘n vriendskaplike verhouding met hulle te leef.
  9. Ons verlaat die Kolonie met die volledige versekering dat die Engelse Regering niks meer van ons te vorder het nie, en ons sonder verdere bemoeiing sal toelaat om ons in die toekoms self te regeer.
  10. Ons vertrek nou uit ons vrugbare geboorteland, waar ons enorme skade gely het en voortdurend blootgestaan het aan enorme ergernis, om ons te gaan vestig in ‘n woeste en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en genadige God, wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal gehoorsaam.

By outoriteit van die boere wat die kolonie verlaat het,

(Geteken) P. RETIEF.

Boerevolk


xrsa1


 

 

Enjoyed this post? Share it!