Smeltsagte gestopte calamari

Smeltsagte gestopte calamari

Smeltsagte gestopte calamari

Stoom die calamaribuise en braai dit dan vinnig in suurlemoen-en-knoffelbotter – jy sal nie glo hoe heerlik sag dit is nie!
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15-20 minute
Gaarmaaktyd: 10-13 minute
VULSEL
2 wiele fetakaas, gekrummel
125 ml (½ k) roomkaas
125 ml (½ k) gerasperde pecorinokaas
4 pikantrissies, gekap
2 jalapeño-rissies, gekap
CALAMARI
14 calamaribuise, skoongemaak
1 suurlemoen, in skywe gesny
80 ml (1/3 k) botter
3-4 knoffelhuisies, gekap
sap en skil van 1 suurlemoen, met ’n repieskiller geskil
2-3 takkies vars tiemie
1. VULSEL Meng al die bestanddele vir die vulsel. Maak seker die calamaribuise is goed skoongemaak – kyk of daar enige plastiekerigheid aan die binnekant is.
2. CALAMARI Skep die vulsel in ’n spuitbuis en spuit die calamaribuise goed vol. Steek die opening toe met peuselstokkies.
3. Pak die suurlemoenskywe in die bak van ’n stomer. Plaas die calamaribuise bo-op.
4. Stoom 8-10 minute tot die calamari gaar is en net van glaserig tot wit verkleur het.
5. Smelt die botter in ’n groot pan. Voeg die knoffel, suurlemoensap en -skil en tiemie by en verhit tot die mengsel geurig is en die botter effens verbruin het.
6. Voeg die calamari by en meng dit net vinnig deur die bottermengsel tot goed bedek.
7. Sit voor saam met lekker groot stukke Franse brood en ekstra wiggies suurlemoen.
WENK Skep dieselfde vulsel op groot bruinsampioene, in rooi soetrissiebakkies of maak ’n spleet in hoenderfilette en vul dit daarmee voor jy dit in die oond druk.
Deur Huisgenoot Digitaal op Oktober 3, 2014

Enjoyed this post? Share it!