Só knoei Zuma met spioene

Zuma se spioeneSó knoei Zuma met spioene

In ’n Rapport-ondersoek is bevind die koverte agente het die afgelope vier jaar al minstens twee “projekte” uitgevoer waarin ’n vyandige vakbond verswak moes word en Zuma se saak by die Seriti-kommissie na die wapenskandaal versterk moes word.

Dié kommissie het onlangs bevind daar was geen ongerymdhede in Suid-Afrika se omstrede wapentransaksie nie.

 Rapport kan vandag onthul dat die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) se eenheid vir spesiale operasies (ESO) in 2011 ’n oudspioen uit die vorige bedeling aangestel het om geklassifiseerde en hoogs plofbare dokumente in Europa te gaan opspoor wat hooggeplaaste ANC-lede by ongerymdhede rondom die wapentransaksies betrek.

Die ESO het die projek van stapel gestuur kort nadat Zuma die Seriti-kommissie geproklameer het.

Die twee verslae wat deur die gekontrakteerde oudspioen aan die hoof van die ESO oorhandig is, is egter nooit as bewysstukke in die Seriti-kommissie toegelaat nie.

Voorts het Rapport bevestig dat intelligensie-agente en gekontrakteerde “vennote” regstreeks betrokke was by die totstandkoming in 2014 van ’n ­nuwe werkersvakbond, die Workers ­Association Union (WAU), wie se sending dit was om lede by die anti-ANC Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) af te rokkel. Amcu het ná die Marikana-slagting in Augustus 2012 byna oornag politieke prominensie bereik.

In die geval van albei “projekte” deur die ESO is beduidende bedrae belastinggeld gebruik tot voordeel van die regerende party. Dit blyk ook dat Zuma self die sleutelfiguur was in die beplanning van die operasies.

Rapport het in April onthul dat Thebe Maswabi, ’n stigterslid van die vakbond WAU, in ’n siviele geding R120 miljoen geëis het van Zuma, ­David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, twee ander kabinetslede en die waarnemende polisiehoof.

EK IS GELOS MET ENORME REKENINGE OM TE BETAAL EN MY LEWE WAS, EN EK GLO IS STEEDS, IN GEVAAR.

Die eis het verband gehou met ­Zuma se beweerde opdragte aan ­Maswabi om die WAU te stig en die finansiële verknorsing waarin Maswabi beland het nadat “Zuma en sy mense” die geldkraan toegedraai het.

Maswabi het ná dié berig aan City Press,Rapport se susterkoerant, gesê hy is in die tyd van die WAU se totstandkoming Londen toe gevlieg waar hy en Zuma ontmoet het.

“Ek het daarheen gevlieg (na Londen) en ons het ons gesprek gehad, maar ek het hom (Zuma) ook voor dit in Pretoria en in Kaapstad gaan sien,” het Maswabi aan Poloko Taugesê.

Hy sê die WAU het ’n “streng mandaat” gehad om Amcu te “ontmagtig” deur sy lede “weg te lok”.

“Zuma en sy mense” het glo mooi vir Maswabi gesorg en hy het glo selfs luukse voertuie en kontant gekry.

Sy nagmerrie het begin toe “Zuma en sy mense” later in 2014 alle kontak met hom verbreek het.

“Ek is gelos met enorme rekeninge om te betaal en my lewe was, en ek glo is steeds, in gevaar,” sê Maswabi.

Hy het sedertdien opgehou om sy selfoon te beantwoord. Sy prokureur beantwoord ook nie meer sy fone nie en reageer nie op navrae nie.

Rapport het intussen twee duidelike skakels ontdek tussen intelligensie-agente en die WAU, wat in 2014 in Rustenburg bekend gestel is:

  • Die selfoon-kontaknommer op die WAU se amptelike registrasiedokument by die departement van arbeid behoort aan Yekani Monde Gadini.

Hy is getroud met Bonisiwe Makhene, Zuma se regsadviseur sedert 2009. Bronne met insae in die intelligensiegemeenskap sê Gadini het in ’n stadium “vrye toegang” gehad tot Mahlobo en dat hy vroeër honderdduisende rande betaal is om intelligensieprojekte te help uitvoer.

Hy het Rapport se navrae per e-pos geïgnoreer en sit sy foon neer wanneer ons hom bel.

  • Oudlede van die WAU het aan Rapport die selfoonnommer gegee van ’n man met “duur skoene, mooi klere en ’n duur motor” wat vroeg in 2014 uit Gauteng na Rustenburg gery het om ’n kantoor te help soek vir die vakbond. Die nommer behoort aan Mthuzimele Peter Silenga, ’n oudagent van die eertydse Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) wat daarna by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se afdeling vir verdeling en risiko gaan werk het.

Silenga se lynhoof by die SAID was Mandisa Mokwena, wat deur Rapport in 2014 as ’n koverte lid van die ESO ontmasker is.

Rapport het intelligensiedokumente onder oë gehad waarin Mokwena se rol as ’n “deep cover”-agent van die ESO bespreek word en waarin aangevoer word dat sy deur Zuma self aangestel is.

Volgens die dokumente is Mokwena deur Thulani Dhlomo (sien “ESO en die wapenskandaal” op bl. 2), hoof van spesiale operasies by die SVA, hanteer.

Mokwena is ook ’n voormalige sakevennoot van Thobeka Madiba ­Zuma, een van Zuma se vroue.

Rapport se bronne sê Silenga het in 2010 ’n SVA-agent geword nadat Mokwena by die SAID weg is.

Hy het nie op Rapport se versoek om kommentaar gereageer nie.

Toe van die voormalige WAU-lede wou weet waar al die geld vandaan sou kom vir die nuwe vakbond, het Silenga glo aan hulle gesê hulle moenie bekommerd wees nie, “die minister” sou daarvoor sorg. Dit is nie duidelik na watter amptenaar Silenga verwys het nie.

Silenga noem homself ’n “adviseur by (die) ANC” op sy Facebook-profiel, waar hy gereeld foto’s van homself in wêreldstede plaas.

Hy het in 2014 op Facebook ’n foto van sy selfoonskerm geplaas wat wys dat ene “Jacob Zuma” hom van ’n 081-nommer bel.

“Knock-knock uyabizwa (klop-klop jy word geroep),” het Silenga naas die foto van die selfoonskerm geskryf.

Rapport kon nie vasstel of die nommer wel aan Zuma behoort of ooit deur hom gebruik is nie.

Die verhaal van die ESO se betrokkenheid by die opsporing van sensitiewe dokumente wat verband hou met die wapenskandaal het sy oorsprong in ’n aparte siviele eis wat in 2013 teen Zuma, Siyabonga Cwele, Mahlobo se voorganger, dr. Cassius Lubisi, direkteur-generaal in die presidensie, en Dennis Dlomo, voormalige direkteur-generaal van die SVA, ingestel is.

Riaan Stander, ’n voormalige intelligensie-agent in die vorige bedeling wat die eis teen Zuma en kie ingedien het, het beweer hy is laat in 2011 deur Thulani Dhlomo, wat ook in 2014 deur Rapport as ’n ESO-lid geïdentifiseer is, genader om werk vir die SVA te doen.

Dhlomo se aanstelling in 2012 as hoof van die SVA se afdeling vir spesiale operasies het kritiek ontlok uit opposisiegeledere weens sy beweerde noue bande met Zuma.

Sy beweerde betrokkenheid by ’n tenderskandaal toe hy nog ’n provinsiale amptenaar in KwaZulu-Natal was, het ook vrae oor sy geskiktheid vir die pos laat ontstaan.

Dhlomo het glo gedurende sy eerste ontmoeting met Stander in November 2011 aangedui dat hy die belange van Zuma en die ander verweerders verteenwoordig en dat hy wou hê Stander moes kwessies rondom die wapenskandaal ondersoek, luidens Stander se eis.

Zuma het kort voor dié vergadering aangekondig dat ’n kommissie onder leiding van regter Willie Seriti bewerings van bedrog, korrupsie en ander onreëlmatighede in die berugte wapenverkrygings van die laat 1990’s en vroeë 2000’s sou ondersoek.

Rapport het betroubaar verneem Dhlomo het vroeg in 2012 baie spesifieke opdragte aan Stander begin gee, onder meer om twee verslae van die Duitse wapenvervaardiger Ferrostaal in Europa te gaan haal.

Ferrostaal het vroeër die Duitse regsfirma Heuking Kühn Lüer Wojtek (HKLW) en die Amerikaanse regsfirma Debevoise & Plimpton (D&P) aangestel om verslae op te stel om sy moontlike aanspreeklikheid te bepaal ten opsigte van die maatskappy se betrokkenheid by ongerymdhede in wapentransaksies, onder meer in Suid-Afrika.

Die verslae, waarvan dele later aan die media uitgelap is, het onder meer bevind dat hooggeplaaste politici en individue met sterk ANC-bande, insluitend Mac Maharaj, Zuma se voormalige woordvoerder, en Julekha Mahomed, Zuma se voormalige prokureur, baat gevind het by bedenklike betalings en transaksies wat verband gehou het met Ferrostaal se kontrak om duikbote aan Suid-Afrika te lewer.

Luidens die D&P-verslag het Ferro­staal sowat R300 miljoen opsygesit om “senior politici” in die aanloop tot die kontrak te “beïnvloed”.

Rapport se bronne sê Stander kon wel albei verslae opspoor en dat hy dit aan Dhlomo oorhandig het. Daar was later ’n groot bohaai toe regter Seriti geweier het dat die verslae as bewyse toegelaat word.

Dit was nadat Ferrostaal glo geweier het om sy regsprivilegie op die dokumente op te hef.

Stander het Zuma en die ander verweerders in 2013 hof toe gesleep weens ’n dispuut oor die geld wat hulle hom glo geskuld het vir sy werk.

Die saak is buite die hof geskik en Rapport het verneem Stander het bykans die volle eisbedrag ontvang. “Ek wil nie in hierdie stadium kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie,” het Stander by navraag gesê.

Brian Dube, Mahlobo en die SVA se woordvoerder, het nie Rapport se navrae oor Gadini, Silenga, Maswabi, die WAU-kwessie en Stander se projek beantwoord nie. Hy het aangedui dat Mahlobo, wat ook waarneem as polisieminister, besig is met kwessies rondom die betogings in Vuwani in Limpopo.

“Onthou, van jou navrae dateer van 2014 toe hy (Mahlobo) nie eens daar (in die ministerie) was nie, so ek dink nie daar gaan terugvoering wees nie,” het Dube per SMS gesê.

Die navrae wat Rapport aan Zuma se woordvoerder, Bongani Majola, sy prokureur, Michael Hulley en aan ander amptenare in die presidensie gestuur het, is ook nie beantwoord nie. – Rapport

Enjoyed this post? Share it!