So lyk die gesig van die snel kruipende transformasie

Rasse intregasie

So lyk die gesig van die snel kruipende transformasie in die Reënboognasie

Links Houtbaai en Regs Imizamo Yethu op die foto deur Johny Millet Netwerk24

Suid-Afrika maak stadig maar seker vordering met die rasse-integrasie van woonbuurte, wys ’n verslag deur Statistieke Suid-Afrika (SSA).

Verreweg die meeste van die land se 234 munisipaliteite het tussen 1996 en 2011 meer geïntegreerd geraak?, sê SSA in 2016 se algemene huishoudelike verslag oor behuising, wat op ’n ontleding van die jongste sensusdata berus.

Van die 234 munisipaliteite het 218 in hierdie tydperk wat ras betref meer gemeng geraak, terwyl rassesegregasie toegeneem het in 16. SSA het ’n indeks bereken wat die graad van integrasie in munisipaliteite toon.

’n Indekssyfer van 0 beteken daar is volledige integrasie, met ander woorde alle woonbuurte in die munisipaliteit het dieselfde rassesamestelling as wat die munisipaliteit in sy geheel het.

’n Indekssyfer van 1 beteken daar is geen integrasie nie, wat beteken dat woonbuurte elk net een rasgroep bevat.

SSA het bevind:

* Die Overstrand-munisipaliteit in die Wes-Kaap, wat Hermanus en Gansbaai insluit, is die mees gesegregeerde munisipaliteit in die land, met ’n indekssyfer van 0,72.

*  Die Nelson Mandelabaaimunisipaliteit, wat Port Elizabeth en Uitenhage insluit, is die tweede mees gesegregeerde in die land (0,70).

*  Kaapstad is die sesde mees gesegregeerde munisipaliteit in die land. In 1996 was Kaapstad die vierde mees gesegregeerde munisipaliteit met ’n indekssyfer van 0,8 maar sedertdien het sy indekssyfer tot 0,67 verbeter.

*  Johannesburg is die metropolitaanse munisipaliteit wat die minste gesegregeer is (0,57).

*  Een van die munisipaliteite wat sedert 1996 die vinnigste geïntegreer het, is Westonaria in die suidweste van Gauteng. Sy indekssyfer het van 0,69 tot 0,45 verbeter. Westonaria se bevolking is 91% swart en 7% wit.

*  Een van die munisipaliteite wat sedert 1996 die vinnigste gesegregeer het, is Modimolle (Nylstroom) in Limpopo, waarvan die indeks van 0,5 tot 0,61 verswak het. Modimolle se bevolking is 88% swart en 11% wit.

Benewens opvallende bevindings oor spesifieke dorpe en stede het SSA ook ’n aantal algemene tendense gesien:  

*  Integrasie van rasse vind meestal plaas in gebiede wat voorheen oorheersend wit woonbuurte was.

*  Sentrale sakegebiede huisves meestal ’n hoë persentasie swart inwoners. Die sentrale ­sakegebiede word gewoonlik ­omring met voorstede wat ’n hoë persentasie van wit inwoners het.

*  Townships met ’n hoë bevolkingsdigtheid word oorheers deur swart, bruin of Indiër/Asiër- inwoners en is afgesluit van die sentrale sakegebiede.

Bron Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!