Soesjikoning Kenny Kunene gee Ramaphosa ‘n sedeles terwyl hy porno publiseer

Die magstryd binne die Suid-Afrikaanse swart elite is besig om klugtige afmetings aan te neem. Vanoggend by die ingang van die Johannesburgse Hooggeregshof het die pierewaaier Kenny Kunene, wat voorheen soesji vanaf naakte dames af geëet het, aan die media ‘n sedeles aan die adres van Cyril Rampaphosa gerig en geregverdig waarom sy aanlyntydskrif Weekly Xposé, gaan aanhou om die adjunkpresident se privaat e-posse te publiseer.

‘n Beweerde minnares van Ramaphosa, die 29-jarige Natasha Theledi, het blykbaar gereeld pornografiese video’s van haarself aan Cyril Ramaphosa gestuur. Kunene se aanlynpublikasie het sowel van die video’s as uittreksels uit die e-posse gepubliseer, waarna Theledi hom en die tydskrif in die Hooggeregshof vir laster en skending van privaatheid gedagvaar het.

In ‘n kwalik bedekte verwysing na Ramaphosa het Kunene gesê, betreffende sy en Theledi se verhouding: “As jy nie luise wil hê nie, moenie by die honde slaap nie.”

Volgens Kenny Kunene is Ramaphosa die hoof van die Vigsraad en daarom ‘n “Koning van Etiek”. “Nou, as jy getroud is en jy gaan uit met ‘n Koning van Etiek, raak jy ‘n saak van openbare belang. En as jy met die adjunkpresident van enige land uitgaan, word jy ‘n voorwerp van belang. Hoe geheim jy dit ook al wil hou, as dit uitkom, word dit ‘n saak van openbare belang, veral as daardie spesifieke adjunkpresident getroud is. En dit word ‘n daad van huweliksontrou. Dit word ‘n saak van openbare belang. Dit is my siening, en die siening van Weekly Xposé dat, as jy in dié tipe verhouding betrokke raak, dan weet jy wat die gevolge is. Die feit dat daar e-posse was wat spesifiek opgestel is vir kommunikasie in die verhouding sê ook (vir ons) dat die dames bewus was… van die risiko vir hul privaatheid. Dit is die grondslag waarop ons dié (aansoek) teenstaan.”

Elders in die hoofstroommedia, waar Ramaphosa as die establishmentkandidaat steeds beskerm word, is daar gewys op die bande tussen Kunene en die ander bekende swart nasionalis, Andile Mngxitama, wat laas glo die redakteur van die Business Day, Peter Bruce, namens die Guptas met betogings voor sy huis “geteister” het.

Volgens Ranjeni Munusamy van die Sunday Times, bestaan daar ‘n “gemeenskaplike agenda” tussen Mngxitama en Kunene aangesien hulle albei in die naweekhofsitting tien dae gelede teenwoordig was toe Ramaphosa gepoog het om die publikasie van sy e-posse te keer. Op 4 September het sy in dié koerant geskryf:

“Die teenwoordigheid in die hof van Andile Mngxitama en Kenny Kunene, wat met die Gupta-geborgde fopnuusnetwerk gekoppel word, het ‘n gemeenskaplike agenda tussen die staatskapingsnetwerk en die aanval op Ramaphosa onthul.”

Soos wat die magstryd verhewing in aanloop tot die ANC se kongres in Desember 2017, sal nog vuil wasgoed uitkom en die absurde aard van die Suid-Afrikaanse politiek nog verder verhoog.

Deur: Praag


Enjoyed this post? Share it!