SONBRAND, HITTE-UITPUTTING EN SONSTEEK

1. SONBRAND
Sonbrand kom voor wanneer ‘n persoon te lank in die son was en sodoende eerstegraadse brandwonde op gedoen het. Sonbrand word veroorsaak deur twee van die ultraviolet lig frekwensies van die wat die son natuurlk uitstraal, naamlik UVA en UVB. Die gevolge van sonbrand is nie net beperk tot ‘n rooi gebrande vel wat later begin afdop nie maar lei ook tot skade onder die boonste laag van die vel waar ultraviolet lig jou vel se DNA kan verander en voortydige veroudering van die vel tot gevolg kan hê maar ook sover kan gaan as om skade aan die vel se DNA te veroorsaak wat weer tot velkanker en dodelike melanome kan lei. Die tempo waarteen jy sonbrand kan opdoen is afhanklik van jou vel tipe, die intensiteit van die son en ook hoe lank jy aan die son blootgestel was. (Pasop, jy kan baie seer brand op ‘n effens oortrokke dag net omdat jy dink daar is geen direkte son nie en omdat dit effens koeler voorkom.)

Die eindstreep op Struisbaai se stand vir die dag se skof op die Trans-Agulhas bootresies. ‘n Wonderlike sport byeenkoms. Reeds van vroeg af wag die toeskouers vir die bote om in te kom. Natuurlik ook ‘n gulde geleentheid om sonbrand op te doen as jy nie die nodige voorsorg getref het nie. (foto geneem, 30 Desember 2013).

1.1 Simptome:
a. Die persoon se vel is rooi gebrand.
b. Sy of haar vel is pynlik.
c. Die vel voel besonder warm (voel of dit gloei).
d. Indien ‘n persoon erge sonbrand opgedoen het kan dit selfs swelling van die gebrande liggaamsdele soos die lippe en blase op die gebrande dele an die liggaam tot gevolg hê.
e. So ‘n pasiënt kan ook griep simptome soos koors, kouekoors, naarheid, hoofpyn en ‘n algemene gevoel van swakheid ontwikkel.
f. Na ‘n paar dae sal die pasiënt se vel begin afdop en mag dit jeukerig wees. Dit is die liggaam se metode om van die beskadigde vel ontslae te raak.

1.2 Behandeling:
a. Maak ‘n handdoek nat met koue water of draai ys toe in ‘n handdoek en plaas versigtig op die gebrande deel van die vel. Jy kan ook ‘n sakkie gevriesde groente gebruik as jy in die bos is. (Moet nooit ys direk op die vel hou vir meer as vyf minute nie, anders kan jy ook brandwonde vanweë bevriesing kry).
b. Die ideaal sou wees om vir ‘n tydjie in ‘n bad koue water te lê.
c. Sonbrand olie of room mag help om tydelike verligting te gee (dit laat die vel vir ‘n kort rukkie koel voel, veral as jy dit vir ‘n rukkie in die yskas gehou het) en die vel effens te bevogtig. Moet asseblief nie botter of enige salf aan die gebrande dele smeer nie.
d. Laat die pasient gereeld water of ander vloeistowwe inneem om te verseker dat hy of sy nie dehidreer nie.
e. Die persoon moet ook liefs vir die volgende dag of twee uit die direkte son bly en klere dra wat die gebrande dele van die liggaam bedek om dit sodoende teen die son te beskerm.

1.3 Voorkoming:
a. Het jy ‘n ligte vel, ligte hare en oë, of brand jy maklik wanneer jy in die son kom dan moet jy verseker voorsorg tref.
b. Bly uit direkte son uit as jy nie die nodige voorsorg getref het of bedekkende klere aan het nie, veral op betrokke dae of naby water of sneeu.
c. Smeer die dele van die liggaam wat met die son in aanraking gaan kom goed met ‘n wyebereik sonbrandmiddel, met ‘n sonbrand faktor (SBF) van minstens 30 of meer, wat jou teen beide die UVA en UVB strale van die son sal beskerm, 30 minute voordat jy onder die son in beweeg. Smeer daarna gereeld elke 90 minute weer van die sonbrandmiddel op die vel veral as jy in water was, dit wil sê geswem het.
d. Om reeds vroeg by jonger kinders vel kanker te voorkom is dit raadsaam om hul swemklere te koop wat die hele lyf en boarm en bobene sal bedek. Die sogenaamde “second skin” tipe swemklere.
e. Dit ag ook raadsaam te wees om ‘n goeie sonbril aan te skaf en te dra wanneer jy in die son rond beweeg of aan skerp weerkaatsende lig bloot gestel gaan word.

2. HITTE-UITPUTTING
Kom baie voor by stappers of bergklimmers wat nie die klimaat (hitte en humiditeit) waarin hul aktief is, gewoond is nie en natuurlik ook vanweë hul aktiwiteite baie sweet en sodoende baie vog en sout verloor en sodoende kan lei tot oorverhit van die liggaam. Die liggaam moet ‘n kern temperatuur van ongeveer 37 oC handhaaf. Om dit te kan reg kry in ‘n omgewing met hoë temperature en humiditeit poog die liggaam sy kern temperatuur te reguleer deur te sweet en sodoende deur middel van verdamping die liggaam te verkoel. As die liggaam nie van die oortollige hitte ontslae kan raak nie tree hitte-uitputting in. So ‘n persoon sal gewoonlik sommer net flou word of inmekaar sak.

2.1 Simptome:
Simptome kan skielik manifesteer of oor ‘n tydperk ontwikkel en die volgende simptome kan voorkom:
a. Die persoon sal uitermatig begin sweet.
b. Die pasiënt se vel mag koel en klam voel, en mag selfs hoendervleis ontwikkel alhoewel hy of sy in die warm son is.
c. Duiselig voel of sommer flou word.
d. Swak voel en moeg met ‘n vinnige polsslag
e. Voel soos iemand wat lae bloeddruk het as hy opstaan, wil dus net omdop.
f. Krampe kan ontwikkel.
g. Hoofpyn mag ontwikkel en die persoon mag ook aggressief voorkom.
h. Kan ook naar voel of vomeer.
2.2 Behandeling:
a. Stop alle aktiwiteite en laat die pasiënt in ‘n koel omgewing sit en rus.
b. Gee die pasiënt soveel koel water of rehidrerings mengsel as moontlik om te drink. Sportdrankies sal ook goed werk. (Maak jou eie rehidrerings mengsel as volg: 1 liter skoon water, 1/2 gelyk teelepel sout en 6 gelyk teelepels suiker. Roer tot suiker oplos.)
c. Moet asseblief nie alkoholiese drank, selfs as dit die enigste beskikbare vloeistof aan die pasiënt gee nie. Alkohol veroorsaak dehidrasie wat die toestand net sal vererger.
d. Koel die pasient se liggaam af totdat hy of sy weer normale liggaamstemperatuur behaal het en kan handhaaf.
e. Indien die pasient se liggaamstemperatuur bly styg en dit binne ‘n uur nie weer begin daal nie of wanneer die pasient se liggaamstemperatuur 40 oC bereik, moet mediese hulp dringend bekom word om te voorkom dat die pasient nie sonsteek opdoen nie.
2.3 Voorkomende optrede:
a. Dra lospassende klere, lig in gewig en kleur wat jou liggaam sal toelaat om maklik te kan sweet en sodoende jou liggaam te help afkoel.
b. Soek ‘n koel plek waar jy teen die hitte kan skuil.
c. Voorkom warm plekke soos ‘n geparkeerde voertuig as die temperature baie hoog is. Die temperatuur in ‘n geparkeerde motor kan binne 10 minute met soveel as 8 oC styg. Moet dus nooit jou kinders in die voertuig laat as jy gou iets by ‘n winkel moet kry en dit baie warm buite is nie. ‘n Mens maak maklik die fout as jy in ‘n lugversorgde voertuig ry, die voertuig afskakel en dan in die winkel inglip.
d. Voorkom sonbrand, dra ‘n ligte hoed met ‘n groot rand en smeer sonbrand olie aan die dele van die liggaam wat aan die son bloot gestel gaan word as jy in die son moet wees. Sonbrand maak dit moeilik vir die vel om die liggaam se temperatuur te kan reguleer.
e. Neem genoeg en gereeld vloeistof in en rus van tyd tot tyd iewers in die skaduwee.
f. Vermy die drink van alkoholiese drank as dit so baie warm is aangesien dit tot verdere dehidrasie mag lei.
g. Neem ‘n soutpil drie keer per dag saam met water as jy wel moet stap, werk of oefeninge doen terwyl die buite temperatuur baie hoog is. Die beste is om uit die hitte te bly op die warmste deel van die dag. Dit is waarom lande waar dit baie warm kan word aan hul siestas glo en streng daarby hou.
3. SONSTEEK
Indien jy hitte-uitputting opdoen en dit nie dadelik behandel nie, gaan dit oor in sonsteek wat lewensgevaarlik kan wees. Sonsteek kan maklik en vinnig lei tot die dood van ‘n pasient indien hy of sy nie die nodige behandeling ontvang nie, die alternatief is permanente brein skade of skade aan van die interne organe van die pasient. Dit kom makliker voor by persone onder 4 jaar en bo 60 jaar maar kan ook by jong atlete voorkom. Sonstraal kan geleidelik ontwikkel met sommige van die simptome van hitte-uitputting sigbaar of skielik manifesteer sonder die aanloop van enige simptome.
3.1 Simptome:
a. Die belangrikste simptoom is ‘n kern ligaams temperatuur bo 40 oC.
b. Die eerste simptoom teken mag dalk wees dat pasiënt sy bewussyn verloor en sukkel om dit te herwin.
c. Die pasient hou op met sweet ongeag die hitte waarin hy of sy blootgestel is.
d. Die pasient se vel sal rooi, warm en droog wees.
e. Naarheid en vomering kom voor.
f. Die pasient ontwikkel ‘n kloppende hoofpyn.
g. Die pasient mag ‘n gevoel van swakheid ondervind wat gepaard gaan met krampe.
h. ‘n Vinnige hartklop ontwikkel. Dit mag sterk of vlou wees.
i. Vinnige maar vlak asemhaling ontwikkel.
j. Gedrags veranderinge mag intree. Die pasient mag deurmekaar wees, gedisorienteer en oor sy eie voete begin struikel.
k. Stuipe mag selfs voorkom en
l. Die pasient mag selfs in ‘n koma gaan.
3.2 Behandeling:
a. Ontbied dadelik ‘n ambulans met die nodige eerstehulp personeel aanboord.
b. Verskuif die pasient na ‘n koel plek in die skaduwee of verkieslik binnens huis. Indien moontlik neem die persoon na ‘n lugverkoelde vertrek.
c. Verwyder alle oortollige klere.
d. Begin dadelik met pogings om die pasient se liggaamstemperatuur af te bring.
e. Indien buite in die natuur, waai koellug oor die pasient terwyl jy die pasient se vel verkoel deur hom of haar vel met ‘n handdoek of spons wat in koel water deurweek is nat te maak. Jy kan selfs die persoon liggies met ‘n tuinslang afspuit.
f. Indien naby akkommodasie met ‘n badkamer, plaas die persoon in ‘n bad met yskoue water (jy kan selfs ys in die water gooi) of hou die pasient onder ‘n stort met koue water.
g. Plaas yspakke onder die pasient se armholtes, in sy lies, op sy nek en rug want hierdie is areas met baie bloedvate na aan die vel voorkom en dit kan help om die bloed te verkoel en sodoende ook poog om die pasient se liggaamstemperatuur te laat daal. (Moet nie yspakke vir langer as 5 minute op een plek hou nie om sodoende te voorkom dat die pasient nie dalk vries brand ook opdoen nie.)
h. Indien die nooddienste langer neem as wat geantisipeer is, bel ‘n hospitaal of mediese dokter vir addisionele instruksies.
3.3 Voorkomende optrede:
a. Bly uit die direkte son uit as die omgewings temperatuur bo 40 oC styg. Soek ‘n koel plek uit waar jy jouself en jou gesin teen die hitte kan beskerm.
b. Indien die omgewing se humiditeits vlakke bo 60% styg, begin die liggaam sy vermoë verloor om homself af te koel deur te sweet. Wees dus versigtig om wanneer dit baie warm is en die humiditeit baie hoog is, om nie uitputtende werk of oefening te doen of aan te pak.
c. Drink gereeld vloeistof al voel jy nie dors nie, om sodoende moontlike dehidrasie te voorkom. Sonder liggaamsvog kan jy nie sweet nie en kan die liggaam dus nie self sy temperatuur reguleer nie en begin die proses wat kan lei tot sonsteek.
d. Om die soute wat jy verloor deur oormatige sweet aan te vul, drink elektroliet ryke sports drankies of drink alternatiewelik een sout pil, 2 tot 3 keer per dag saam met water.
e. Voorkom die gebruik van alkoholiese drank aangesien dit dehidrasie aanhelp.
f. Monitor die kleur van jou uriene. Donker urine is ‘n teken van dehidrasie.
Aspin Adventures

 

Enjoyed this post? Share it!