Sosialisme:- dit gaan ons almal honger en arm laat

Die EFF kan nie anders as om voor te stel dat banke sonder vergoeding genasionaliseer moet word nie, want die staat het weens die ANC se wanbestuur en korrupsie bloot nie meer die geld om daarvoor te betaal indien dit sou gebeur nie, het dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, gesê.

Dr. Mulder het met die parlementêre debat oor die EFF se voorstel dat banke op hierdie basis genasionaliseer moet word, gesê die uitvoering van dié voorstel sal Suid-Afrika vernietig.

Hy het gesê die geskiedenis het by herhaling gewys dat die gedagte van vrye mark en gewaarborgde eiendomsreg, rykdom en werksgeleenthede skep en dat sosialisme en kommunisme almal ewe arm en honger maak.

“Ons ken die bekende aanhaling wat lui dat sosialisme se groot probleem daarin lê dat jy eindelik ander mense se geld opgebruik.

“Indien die banke genasionaliseer sou word, sou ʼn groot persentasie in waarde en werksgeleenthede oornag vernietig word. Die staat mag nie inmeng met sake nie aangesien hy gewys het hy kan dit doodeenvoudig nie bestuur nie.

“Die EFF sê eintlik ons moet met banke maak soos tans met Eskom en die SAL gebeur met mense soos Dudu Myeni en Brian Molefe aan die stuur. Dit is ʼn resep vir rampspoed.

“Voorbeelde van nasionalisering in Afrika is Nigerië waar banke in die jare sewentig genasionaliseer is, terwyl hulle in 1994 bankrot was. Net so Ghana en in Tanzanië.

“Daar is tog voorbeelde in Afrika waar die teenoorgestelde gebeur het. Lande soos Botswana, Mauritius, Kenia en Suid-Afrika waar jy goed ontwikkelde ekonomiese stelsels en vooruitgang sal aantref.

Suid-Afrika se ekonomie is tans in so ʼn kritieke situasie dat ons hoegenaamd nie kan bekostig om die boodskap aan beleggers, gradeerders en die wêreld uit te stuur dat ons ons banke wil nasionaliseer nie.

“Veral nie op die dag dat private banke die SAL moes red met ʼn boei van ʼn verdere R3 miljard om hom van ondergang te red nie. Daar is tans ʼn lopende tekort van R50 miljard in ons ekonomie. Watter belegger gaan ons nooi as ons in hierdie omstandighede banke nasionaliseer?” het dr. Mulder gevra.


Enjoyed this post? Share it!