Sovereign Foods baklei teen sluiting na tekens van listeria opgespoor is by slagplaas

‘n Bekende hoenderverwerkingsaanleg en die departement van gesondheid in Gauteng is in ’n hane-geveg betrokke oor die oënskynlik swak gehalte van die pluimveeprodukte wat deur Sovereign Foods se slagplaas in Hartbeespoort aan verbruikers gebied word.

Toetse is in Desember op dié slagplaas gedoen nadat kommer landwyd uitgespreek is oor die uitbreek van ’n listeria-infeksie veral by hoenders wat op slagplase verwerk word.

Dié infeksie is oordraaglik, dodelik en hou veral negatiewe simptome vir swanger vroue en mense met ’n verswakte immuunstelsel in.

Lesemang Matuka, woordvoerder van die departement van gesondheid in Gauteng, sê sedert die begin was daar 365 gevalle van listeriose in Gauteng en 28 mense het gesterf.

Daarom is besmettingspunte op verskeie slagplase gaan soek. Volgens hom is Sovereign Foods is een van die plekke waar tekens van listeria opgespoor is.

Blaine van Rensburg, hoof van produksie by Sovereign Foods, sê die departement het hulle genader om toetse op produkte te doen toe tekens van listeria op ’n ander slagplaas aangetref is.

“Ons het vrywillig toegelaat dat monsters geneem word. Ons eie gesondheidsinspekteurs het hul span vergesel en het dieselfde 14 monsters as hulle geneem.

“Terwyl hulle hul monsters by die Charlotte Maxeke-infeksiebeheerlaboratorium ingedien het, is ons s’n by Deltamune, ’n onafhanklike laboratorium, ingedien.

Ons meen die verbod is voortydig en ongegrond. Hulle het die slagplaas gesluit tot die perseel deur die departement se inspekteurs ondersoek word en nuwe monsters geneem is.

“Die laboratorium spesialiseer in en is geakkrediteer om toetse vir die listeria-bakterie in kos te doen.”

Die uitslae van Charlotte Maxeke het getoon daar is listeria-besmettings by agt van die 14 monsters, terwyl Deltamune geen infeksies kon opspoor nie.

Desondanks het die departement van gesondheid Sovereign Foods beveel om hul produksie te staak.

“Ons meen die verbod is voortydig en ongegrond. Hulle het die slagplaas gesluit tot die perseel deur die departement se inspekteurs ondersoek word en nuwe monsters geneem is.”

Van Rensburg sê hulle voldoen aan die hoogste standaarde van gesondheid en higiëne wat die verwerking van hoenders aanbetref.

Hulle onderhandel tans met die departement om die verbod tersyde te stel totdat die nuwe monsters se uitslae bekend is.

“Omdat hoender gaargemaak moet word voordat dit geëet word, is die gevaar van listeria-infeksie uiters gering. Listeria-bakterieë word vernietig teen ’n temperatuur van 50 °C. Ons raai verbruikers in elk geval altyd aan om hoender vir minstens twee minute teen 70 °C te kook.”

Matuka sê nadat die uitslae verkry is, is streng maatreëls ingestel waaraan die verskaffer moet voldoen voordat hy met sy produksie kan voortgaan.”

Deur:  Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!