Spoegende vrouegeneraal wat verklaar dat sy wit mense haat gearresteer oor bedrog

’n Vrouegeneraal in die leër wat al by herhaling na haar ondergeskiktes gespoeg het en verklaar het dat sy wit mense haat, is die afgelope week weens bedrog in hegtenis geneem.

Genl.maj. Nontobeko Mpaxa (52), hoofdirekteur van magsvoorbereiding, is in wat die weermag ’n “geheime operasie” noem in Pretoria vasgetrek. ’n Onbekende aantal beweerde medepligtiges is volgens Siphiwe Dlamini, ’n weermagwoordvoerder, ook aangekeer.

Mpaxa het kort daarna in die militêre hof in Thaba Tshwane op aanklagte van korrupsie en bedrog verskyn.

Sy is op borgtog vrygelaat. Volgens Dlamini is ’n kennisgewing om haar te skors vir haar gegee.

Mpaxa het glo ’n maatskappy wat voorrade soos rantsoene aan die weermag verskaf het. Dit is nie bekend of die rantsoene ooit gelewer is nie. Sy het glo ook nie haar belange verklaar nie. Luidens die maatskappyregister is daar twee maatskappye in haar naam geregistreer: Thabisa Sihle Holdings en Kusile Products, ’n koöperasie. Laasgenoemde se adres is die SA Intelligensie-kollege in Pretoria, waar Mpaxa voorheen die bevelvoerder was.

Die korttermynrantsoenverskaffings word gewoonlik aan maatskappye toegeken wanneer daar ’n onvoorsiene tekort aan voorrade vir die soldate is.

Die saak teen Mpaxa, wat allerweë as die volgende leërhoof beskou is, is Dinsdag vir verdere ondersoek na Potchefstroom verwys.

Dít is volgens onberispelike bronne in die weermag omdat daar reeds ’n soortgelyke dossier by die Militêre Polisie in Noordwes ondersoek word.

Dié ondersoek strek terug tot haar termyn as bevelvoerder van die Leër­gevegopleidingsentrum by Lohatlha in die Noord-Kaap van 2007 tot 2013.

In daardie tyd het sy wyle ao. At ­Malan wederregtelik in hegtenis laat neem, op hom gespoeg en geskel. Die minister van verdediging moes vergoeding van R330 000 aan Malan betaal.

Mpaxa is in 2008 vir dronkbestuur aangekeer nadat sy glo ’n stopteken in Kimberley verontagsaam het. Dié saak se uiteinde is nooit deur die weermag bekend gemaak nie.

Adv. Pikkie Greeff van die SA Nasionale Weermagunie het in 2011 ’n klag van meineed teen Mpaxa aanhangig gemaak nadat sy na bewering in verklarings in ’n aansoek voor die hooggeregshof in Pretoria gelieg het.

Greeff sê hy probeer die afgelope twee jaar al vergeefs vasstel wat van dié saak geword het. “Die hoflêer het eenvoudig spoorloos verdwyn.”

Mpaxa het in Lohatlha na bewering op staatskoste ’n borrelbad in haar militêre huis laat sit.

Volgens een regsoffisier is dit ondenkbaar dat ’n saak van dié omvang in ’n militêre hof aangehoor word. Die maksimumstraf wat só ’n hof vir bedrog kan oplê, is R10 000. Dit is volgens hom verder ondenkbaar hoekom nóg ’n generaal, brig.genl. Leon Eggers, bevelvoerder van die leër se seinformasie in Pretoria, verlede jaar vir soortgelyke bedrogaanklagte summier voor die handelshof gedaag is nadat hy ure lank in die selle aangehou is.

Dlamini kon nie sê waarom die saak in ’n militêre hof eerder as die handelshof aangehoor word nie.

Deur: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!

 
  • J Rex Aspeling

    Racist and a thief!