Staatskaping net ‘n gedeeltelike probleem – SA is ruim die slagoffer van omvattende korrupsie

Korrupsie is nou so endemies in Suid-Afrika dat die ANC se steun daal, en veral sigbaar daar waar dit met pres. Jacob Zuma verweef is. Maar alle beweerde korrupsie kan nie op die een of ander manier na Zuma toe herlei word nie – daar is om elke hoek en draai iemand wat konkel – van ’n verkeersbeampte wat boetes teen afslag “verkoop”, tot munisipale en ander staatsamptenare wat geld laat verdwyn, met die staatskaping wat oorhoofs ook sy tentakels diep inslaan.

Terwyl dit ou nuus begin word oor die mate waarin Suid-Afrika gekaap is, is dit duidelik dat dit net ’n deeltjie van die probleem is. Korrupsie-berigte slaan uit in die media waarby die Guptas waarskynlik nie eens met verbeelding betrokke sou kon wees nie. Vanoggend tref die volgende berigte in een dagblad alleen:

  • Van die miljarde rande se droogtehulp deur die staat (altesaam sowat R3 miljard, aldus pres. Jacob Zuma se staatsrede), het net ’n fraksie die georganiseerde landbou bereik. Net 5% van die sowat R1 miljard wat verlede jaar aan droogtehulp bestee moes word, het die bestemming bereik. Agri SAgaan môre tydens ’n mediakonferensie meer besonderhede bekend maak.
  • Dit lyk of die nuwe minister van energie, Mmamoloko Kubayi, sterk van plan is om agter die kap van die byl te kom oor die spotgoedkoop verkoop van Suid-Afrika se oliereserwes. Dit is reeds duidelik dat die 10 milljoen vate nie as deel van die “rotasieprogram” verkoop is soos haar voorganger, Tina Joemat Petterson, beweer nie. Strafregtelike stappe word nou oorweeg.
  • Vroeër het dieselfde koerant (Volksblad) berig dat die Vrystaatse LUR vir huisvesting ’n klag gelê het oor R600 miljoen rand wat nie spandeer is nie, en toe lustig deur sy voorganger, Mosebenzi Zwane, laat uitdeel is sodat die geld nie aan die einde van die boekjaar na die staatskas terugval nie. Zwane is nou minister van minerale sake. Onder die begunstigdes, aldus die klag wat by die Hooggeregshof ingedien is, tel Hlaudi Motsoeneng, en onder andere ook die eggenoot van die nuwe minister van polisie, Fikile Mbalula.

Kort-kort is daar berigte oor amptenare wat vir korrupsie vervolg word. Dit sluit twee Vrystaatse LUR’e in, asook John Block, vorige Noord-Kaapse leier van die ANC. Oor die algemeen is die indruk egter dat dit klein vissies is wat vir relatief geringe bedrae se bedrog aangekeer word. Maar die bietjies-bietjies maak naderhand die emmer vol, en veral in ’n munisipaliteit wat noustrop trek, kan ’n paar rand wat hier en daar voete kry ’n groot verskil maak.

HOP-huise word wel gebou, en die nuwe bewoners neem hul intrek. Maar skaars is die kontrakteursmweg, of die brouwerk blyk. Barste ontstaan en in die winterreënvalgebiede slaan die muf teen die mure uit. Dit raak ’n stryd om klere binnenshuis behoorlik droog en mufvry te kry – en dit met twee agtereenvolgende droë winters. Kontrakteurs kan nie altyd die skuld kry nie, met laekostebehuisingskemas wat op gronde opgerig word wat nie werklik geskik is vir die bou van huise nie. Tog verklap die name van sulke woongebiede, soos Turflaagte, dikwels dat die noodlot geteister word. Ironies genoeg het die LP’s se ter plaatse ondersoek by Nkandla aan die lig gebring dat ook dié geboue erg onder barste en ander duidelike tekens van afskeep-bouwerk (waarvoor dikwels buitensporige bedrae belastingbetalersgeld opgedok is) deurloop.

Die uiteinde van so ’n proses waar staatsgeld deurlopend in verkeerde sakke beland? Dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus het dit soos volg in die parlement gestel: “Die besef sal binnekort posvat dat daar nie meer geld is om links en regs uit te gee nie. Die tesourie sal dit mooi verduidelik: Die ekonomie groei nie meer nie, daar kom nie meer geld in nie. Dit is op. Die ANC-regering se vergrype het hom eindelik ingehaal.” Kort en kragtig.

In ’n rubriek deur dr. Leopold Scholtz op Maroela, “Die probleem met korrupsie”, word omvattend gekyk na die vele fasette van korrupsie, die gevolge daarvan soos dat dit die armes die meeste benadeel, en persepsies oor korrupsie in Suid-Afrika, tenderpreneurskap en vele meer. Daar kan geen ander slotsom wees nie, Suid-Afrika is ruim die slagoffer van omvattende korrupsie.

Bron: Maroela Media
Skrywer: Herman Toerien


Enjoyed this post? Share it!