Staatskaping: Zuma kry pak in hof

Jacob Zuma het Woensdagoggend in die hooggeregshof in Pretoria opdrag gekry om uit sy eie sak te betaal vir sy poging verlede jaar om ’n interdik te bekom om te keer dat adv. Thuli Madonsela, die vorige openbare beskermer (OB), haar staatskapingsverslag uitreik.

Regter Dunstan Mlambo, regterpresident van Gauteng, het ’n volbank regters se geskiedkundige eenparige beslissing in die hof voorgelees.

Sowat ’n halfuur voordat die saak oor die OB se verslag einde Oktober verdaag het, het Zuma se regspan op die nippertjie besluit om ‘n gedeelte van sy hersieningsaansoek teen Madonsela se verslag te laat vaar.

Dié gedeelte bepaal die staatskapingsverslag moet na die OB terugverwys word as Zuma se aansoek suksesvol is.

Zuma het later in bykomende hofstukke aangevoer hy sal binne 30 dae ’n kommissie van ondersoek na staatskaping aanstel mits die hof Madonsela se staatskapingsverslag tersyde stel.

Zuma het ook aan die hof gesê dié kommissie sal nie sy beweerde oortredings van die etiese kode ondersoek nie. Die hof moet dié aspek eerder na adv. Busisiwe Mkhwebane, die huidige OB, terugverwys.

Madonsela het in haar verslag voorgestel die hoofregter moet die voorsitter van die regterlike kommissie aanstel, en nie Zuma nie. Dit is omdat Zuma self in haar verslag geïmpliseer word.

Die EFF, Cope en die UDM het vroeër in die hof aangevoer die hof moet Zuma se aansoek verwerp en beslis dat die president die regskoste uit sy eie sak moet betaal. Zuma het dit dit in sy stukke verwerp en gesê dié versoek is misplaas. Die DA, wat Zuma se hersieningsaansoek teenstaan, het in sy stukke gesê Zuma se besluit om ’n deel van sy aansoek terug te trek, laat die hof met geen keuse nie as om die aansoek in sy geheel te verwerp.

Die DA het in sý stukke aangevoer die hof moenie net Zuma se aansoek verwerp nie. Die hof moet Zuma ook opdrag gee om Madonsela se aanbevelings dadelik toe te pas.

James Selfe, federale voorsitter van die DA, het vroeër gesê as Zuma die voorsitter van die regterlike kommissie aanstel, sal hy, soos Madonsela sê, homself “regter en jurie in sy eie saak maak”.

Adv. Ishmael Semenya, SC, het in die hof aangevoer Zuma is as president die enigste mens wat by magte is om regterlike kommissies aan te wys en te besluit wie die voorsitter moet wees.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!