Staatskole in Gauteng sal met minder onderwysers moet klaarkom in 2018

Talle staatskole in Gauteng sê hulle is pas ingelig hulle gaan aanstaande jaar met aansienlik minder onderwysers moet klaarkom as waarvoor hulle begroot het.

Een skoolhoof het vir Rapport gesê sy skool gaan volgens die departement van onderwys se jongste postoedeling, wat ’n week voor die skoolvakansie aan hom oorgedra is, in 2018 sewe poste minder hê as verlede jaar. As die skool dié poste nou moet vul, kan dit soveel as R1,8 miljoen per jaar kos, geld waarvoor daar glad nie begroot is nie, sê hy.

Vyf skole in Pretoria het tussen hulle volgens die jongste toedeling 28 poste verloor en die vakbond Solidariteit sê daar is skole wat soveel as 13 poste verloor het.

Die skole moet na ons toe kom as hulle bekommerd is. Hulle moet met ons kom praat.

Steve Mabona, woordvoerder van die LUR vir onderwys in Gauteng

Die departement ontken dat enige onderwysers hul poste gaan verloor. Trouens, volgens Steve Mabona, woordvoerder van ­Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, gaan die totale getal onderwysers in die provinsie met sowat 500 toeneem.

Die toedeling van onderwysers is net ’n herverdeling gegrond op leerlinggetalle.

Mabona sê geen onderwyser gaan afgedank word nie. En as enigeen geskuif word, sal dit gebeur in konsultasie met die skole, onderwysers én vakbonde.

“Die skole moet na ons toe kom as hulle bekommerd is. Hulle moet met ons kom praat,” sê Mabona.

Die provinsie se leerlingtal neem jaarliks drasties toe weens verstedeliking. Teen Desember verlede jaar was amper 230 000 leerlinge in die provinsie in skole geplaas.

In Oktober vanjaar het die provinsie reeds sowat 286 000 aansoeke gehad – ’n toename van meer as 50 000 leerlinge.

Volgens Solidariteit se inligting is sowat 72 000 voornemende gr. 1 en gr. 8-leerlinge nog nie in skole vir 2018 geplaas nie.

Solidariteit het Vrydag in ’n brief geëis dat die departement hom die versekering gee dat geen onderwyser afgedank sal word sonder ’n behoorlike arbeidsproses nie. Solidariteit eis ook dat die departement hou by die oorspronklike postoedelings.

Die departement doen elke jaar ’n postetoedeling om seker te maak dat skole wat groei of krimp steeds ’n regverdige getal onderwysers het.

Skole het in Julie en Oktober voorlopige toedelings ontvang, maar toe skielik in die eerste week van Desember is dié postoedelings vir sommige skole verder besnoei.

Die probleem met die laat verandering van die toedelings is volgens Solidariteit dat skole se begrotings reeds afgehandel is en dat beheerliggame in dié laat stadium niks kan doen om te vergoed vir die potensiële tekort aan personeel nie, self al sou hulle dit kon bekostig.

“Ons het gehoor dat soveel as 1 800 poste in totaal verlore kan gaan en dat sekere skole soveel as 13 onderwysers kan verloor,” sê Solidariteit. Dít terwyl die leerlingtal in baie van dié skole toegeneem het.

Twee skoolhoofde met wie Rapport gepraat het, sê hulle vind dit vreemd dat die departement eers ’n week voor die skole gesluit het, die postoedelings bevestig het.

“Dit plaas skoolhoofde in ’n onmoontlike posisie. Hulle kan nie hul personeel bestuur nie en hulle kan nie beplanning vir volgende jaar doen nie,” sê Solidariteit in sy brief aan die departement.

Solidariteit sê die hoofde het aanvanklik opdrag gekry om poste te verminder ingevolge die nuwe postoedelings, maar hulle is later aangesê dat hulle aan geen onderwyser kennis mag gee nie.

Volgens Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), vind die proses landwyd plaas, maar Gauteng is die laaste provinsie waar onderhandelings afgehandel is.

“Dit lyk my Gauteng se geld het opgeraak,” sê hy.

Hy beskuldig die Gautengse onderwysowerheid daarvan dat hy geld vermors het, onder meer toe hy 88 000 tabletrekenaars vir leerlinge aangekoop het.

Talle skoolhoofde het vir Rapport gesê hulle het geappelleer teen die jongste toedeling, maar het nog nie terugvoering van die departement daaroor gekry nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!