Stakende wagte brand bande by ingange na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria

Veiligheidswagte het Maandagoggend die ingange na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria met brandende motorbande en klippe versper.

Voorheen is berig dat lughawens, skole, hospitale en private sakeondernemings maar net ’n paar van die instellings is wat Maandag deur ’n beplande staking deur veiligheidswagte landwyd geraak kan word.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie het veiligheidsmaatreëls by nasionale sleutelpunte ingestel maar ander instellings moet self vir hul veiligheid sorg.

Luidens die ASC en Tusisa se verklaring eis die wagte permanente aanstellings in poste, ’n basiese salaris van R8 500, ’n gesonde werkomgewing, ’n agtuurwerkdag (waar enige ekstra ure as oortyd gesien word), asook ’n werkweek wat van Maandag tot Vrydag strek.

“Die ANC het oor die jare beloof om werkskepping ’n prioriteit te maak, maar hierdie party is vandag die rede vir die wisselvallige werksituasie waarin die ASC en Tusisa hul bevind,” lui die verklaring.

“Die ASC en Tusisa eis dat skoonmakers en veiligheidspersoneel al die voordele van ’n permanente aanstelling moet geniet en waar kontrakte verstryk, hul poste nie geraak sal word nie.”

Luidens die verklaring loop 6 000 veiligheidswagte op 1 Desember die risiko om hul werk by die Ekurhuleni-munisipaliteit te verloor, omdat die kontrak tussen die munisipaliteit en die private diensverskaffer verstryk.

Dr. Makhosi Khoza, voormalige ANC-LP, sal die protesoptog in Gauteng lei, waar die 6 000 wagte uit Ekurhuleni verwag word. Khoza is volgens die verklaring betrek omdat die ASC en Tusisa haar as ’n geloofwaardige leier sien, wat poog om mense landwyd te verenig.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!