Stam grondeis-plase kwyt oor skuld

Dié plase het voorheen aan ­Pistorius, Levin Anthony Hirst en Gilroy Clements McAlpine se maatskappy, Gamevest, behoort.

Dit vorm deel van 11 plase wat die staat in 2007 vir R163 miljoen by Gamevest aangekoop en vir die Mashi­shimane-stam gegee het.

 Sedert 2008 is die stam en Gamevest in ’n regsgeding gewikkel oor R2,5 miljoen wat die stam aan die maatskappy moes betaal vir wild en ander toerusting wat op die plase agtergebly het.

Die stam het hul stryd onlangs in die appèlhof in Bloemfontein met koste verloor. Hulle het geappelleer teen ’n uitspraak van ’n volbank regters in die hooggeregshof in Pretoria in Maart verlede jaar.

Daarna moes hulle ’n raps minder as R3 miljoen aan Pisto­rius- hulle opdok.

Ferdi Hartzenberg, die stam se prokureur, sê hulle het ná dié betaling nie genoeg geld oorgehad om Gamevest se regskoste van R578 900 teen die sperdatum van 30 Junie te betaal nie. Pistorius-hulle se prokureurs het geweier om ’n afbetalingsooreenkoms aan te gaan en die balju het op die plase beslag gelê om dit op te veil.

Die stam kon tot dusver nie geld by banke leen nie omdat hulle nie bewys van inkomste kon lewer nie. Staatstoelae wat hulle gekry het, is reeds gebruik om lodges op die plase te bou. Die lodges word aan toeriste verhuur.

Jurgens Bekker, Gamevest se prokureur, sê sy kliënte wil graag hul geld hê en die “ongelukkige hoofstuk” agterlaat.

Die oorsprong van die regsgeding is ’n skriftelike ooreenkoms wat in 2007 aangegaan is. Daarvolgens sou Gamevest wild en ander toerusting op die plase agtergelaat het en die stam sou die maatskappy R2,5 miljoen daarvoor betaal. ’n Jaar later, in 2008, het die stam Pistorius-hulle nog R1,47 miljoen van dié geld geskuld.

Die stam het gesê hulle het nog nie die volle bedrag betaal nie, want Gamevest skuld hulle ’n inventaris van die wild, asook ’n sakeplan waarmee die stam kon aansoek doen vir staatstoelae.

Gamevest het egter aangevoer die sakeplan was nie deel van die ooreenkoms nie; dit het slegs die wild en ander toerusting behels.

Hartzenberg sê ondanks dié terugslag gaan die stam voort met ’n grondeis op twee ander plase wat Pistorius in die omgewing besit.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!