Stank van ANC bewind hang oor Vrystaat

Die stank van ANC-bewind oor die Vrystaat die afgelope 23 jaar hang letterlik oor die provinsie, met alle munisipaliteite disfunksioneel, die stank van riool wat feitlik oral hang en die provinsiale regering onder premier Ace Magashule wat korrup is tot in sy kern. Dit is die feite van die situasie.

By dorpe en ook in die hoofstad Bloemfontein hang die stank van rou riool in die strate omdat rioolverwerkingsaanlegte nie werk nie en dit word aangevul deur die stank van vullis in strate wat slegs sporadies verwyder word, asook van stortingsterreine wat glad nie bestuur word nie en wat letterlik mislike reuse afvalhope geword het.

Dit is letterlik die feitelike situasie indien bv. vanaf Qwa Qwa oor Thaba Nchu-Botshabelo-Bloemfontein na Jacobsdal gereis word of vanaf Jagersfontein na Frankfort en Villiers. Op feitlik elke dorp is daar ‘n waterprobleem, met dorpe soos Fauresmith, Senekal Clocolan, Reddersburg, ens. wat soms vir weke aanmekaar geen munisipale drinkwater het nie.

Eskom word miljarde rand geskuld vir onbetaalde elektrisiteitsrekeninge, terwyl alle munisipaliteite in die provinsie tegnies bankrot is. Met die laaste rondte van OG-verslae is bv. bevind dat die Ngwate Munisipaliteit (Parys) ongemagtigde uitgawes van R117 miljoen gehad het, Matjhabeng Munisipaliteit (Welkom) meer as R800 miljoen, Moqhaka Munisipaliteit (Kroonstad) R190 miljoen, Tswelopele Munisipaliteit (Tweeling) R9 miljoen, Nala Munisipaliteit (Bothaville) R100 miljoen en Tokologo Munisipaliteit (Boshof) R100 miljoen se ongemagtigde uitgawes gehad het. Dit sluit nie in onreëlmatige uitgawes en vermorste bedrae, wat meesal selfs meer as die ongemagtigde uitgawes beloop.

Dan is daar nog die beweerde bedrog van sowat R180 miljoen van die Vrystaatse regering in die geval van die Gupta-beheerde Estina suiwelplaas in die Vrede-distrik, waarvan na bewering sowat R33 miljoen in 2013 aangewend is vir die omstrede Gupta-troue te Sun City. Voorts is daar ook korrupsie van miljoene rand met die omstrede visteelprojek van die provinsiale regering met China by Gariepdam. Die Vrystaatse Wetgewer lyk ook vir alle praktiese doeleindes disfunksioneel met sittings en komiteesittings wat nie gehou word of op kort kennisgewing uitgestel word.

Die oprigting van ‘n nuwe Wetgewergebou op die perseel van die Ou Tronk in Batho by Bloemfontein het ook nog nie gerealiseer nie, hoewel miljoene rand aan kontrakteursgeld reeds betaal is. Terwyl kommersiële landbou in die provinsie ondanks allerlei regeringsdruk voedsel produseer en ook bydra tot die grootste mielie-oes nóg in die provinsie, lê 42 plase wat vir doeleindes van grondhervorming oorgedra is, onproduktief.

Sopas het 50 000 ha weiveld in die provinsie binne 48 uur afgebrand, met getuienis dat talle van hierdie brande met opset gestig is – nog ‘n bydrae tot die stank wat oor die provinsie hang. Talle Polisiestasies in die provinsie is ook grootliks disfunksioneel, te midde van ‘n stygende golf van misdaad soos plaasaanvalle en –moorde, gewapende rooftogte, dwelmhandel, inbrake, veediefstal, wangedrag teenoor vroue en kinders, ens. So bv. is die SAPD-stasie te Hennenman sedert Februarie vanjaar sonder elektrisiteit, die Mangaung Blitspatrollie het slegs twee bakkies beskikbaar vir 20 Polisiebeamptes, ander Polisiestasies ondervind ‘n kroniese tekort aan voertuie, berigte van beamptes by aanklagkantore wat weier om dossiere vir nuwe klagtes te open, ens.

Om egter die ondenkbare kersie op die koek te plaas, sê die ANC-besture in die Vrystaat en KZN in ‘n gesamentlike verklaring: “Daar is ‘n toename in arrogansie onder wit mense.”

Deur: Ditsem Nuus


Enjoyed this post? Share it!