Steinhoff: Voormalige uitvoerende hoof Markus Jooste is landuit

Markus Jooste (56), voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, is reeds sedert Januarie vanjaar nie meer in Suid-Afrika nie.

Na verneem word het Jooste Suid-Afrika reeds op 8 Januarie vanjaar verlaat.

Twee verskillende bronne in die departement van binnelandse sake het Woensdag bevestig dat Jooste die land op ’n British Airways-vlug (BA) na Londen verlaat het.

Jooste het volgens inligting eiendom in Londen.

Dit is nie bekend waar Jooste hom tans bevind nie – volgens gerugte is hy in Londen, Duitsland of Australië. Verskeie pogings om sy vrou, Ingrid (56), vir kommentaar op te spoor, het niks opgelewer nie.

News24 en Huffington Post het Woensdag berig Jooste het glo ’n buite-egtelike verhouding met ’n blondine met ’n bekende Afrikaanse van. Volgens die berig woon dié blondine glo in ’n woonstel of eiendom wat aan Jooste behoort.

Pogings om die blondine, ’n bekende in internasionale en nasionale polokringe, vir kommentaar op te spoor, het niks opgelewer nie. Haar selfoon het onophoudelik gelui, maar is nie beantwoord nie. ’n Landlynnommer vir haar is dieselfde nommer as die van Mayfair Speculators in Stellenbosch. Mayfair Speculators behoort aan Jooste.

Jooste het ook nie sy selfoon beantwoord nie.

Net een van die verskeie oproepe na ander landlyn- en selfoonnommers wat glo eens op ’n tyd aan Jooste behoort het, is beantwoord deur ene Bertus. Hy het homself voorgestel as die veiligheidsbestuurder “op die plaas” – vermoedelik Jonkersdrift.

Hy het gesê hulle het Jooste lanklaas gesien. Hy kon nie onthou wanneer laas nie en wou geen verdere kommentaar gee nie.

Jooste het op Dinsdag 5 Desember by Steinhoff bedank.

“Ek het groot foute gemaak en het nou finansiële verlies vir onskuldige mense veroorsaak.” So het ’n brief gelui wat hy glo aan die personeel van Steinhoff gestuur het ná sy skielike bedanking. Jooste het bedank nadat nuwe inligting oor boekhou-ongerymdhede in die maatskappy aan die lig gekom het.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!