Steve sal bly praat oor plaasmoorde

Steve Hofmeyr sê hy gee nie om hoeveel druk daar op hom uitgeoefen word om stil te bly oor die ontstellende hoë moordsyfer op boere nie, hy gaan nie net terugsit en wag totdat die statistieke beter lyk nie.
Hy het hierdie stelling Dinsdagaand voor honderde vakansiegangers by die ATKV-Hartenbos gesê.
Hy het gesê niemand moet vir hom sê hy moet ontspan oor sy mense wat vermoor word nie. Te midde van luide applous het hy gesê hy sal nie vir sulke mense luister nie.
In ’n emosiebelaaide toespraak aan die gehoor het hy verduidelik wat die impak op Afrikaners is wanneer ’n boer vermoor word nadat hy misdaadstatistieke aan hulle voorgehou het.
Elke keer as ’n boer vermoor word, verloor jy die voorreg van ’n vleisbraai, ’n brandewyn-en-Coke en ’n Van der Merwe-grappie in jou eie taal, het Hofmeyr gesê.
Hy het voortgegaan en gesê jy verloor ook die voorreg van nagereg en sê tot siens vir Hertzogkoekies en Jan Ellis-poeding. Jy verloor ’n vers in Afrikaans; ’n Bybelvers; ’n psalm; ’n gesang wat lui: Ek sien ’n nuwe hemel kom.
“Elke keer as daar ’n boer vermoor word, verloor jy ’n klein stukkie jy en ’n klein stukkie taal en ’n klein stukkie godsdiens,” het hy gesê.
Hoewel Hofmeyr nie die hele Die Stem gesing het nie, het hy gesê dat ’n mens die “voorreg verloor om op ’n rots te staan en te sê: Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra.”
“Ons sal lewe ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika,” het die skare dié strofe saam met Hofmeyr gesing.
Hoewel hy meestal in Engels gesing het en skertsend verwys het na sy selfverklaarde status as die “mees geboikotte wit man”, het hy aangegaan oor die tradisionele Afrikaner-landskap: Die FAK, Voortrekkererfenis en moedertaalonderrig.
2015, sal onthou word as die jaar dat ons ons laaste Afrikaanse universiteit prysgegee het, het Hofmeyr gesê. – Die Vryburger

Enjoyed this post? Share it!