Stigtersvoorsitter van die Jeffreysbaai-veteraanmotorklub, in sy huis doodgeskiet

Die Marais-gesin het 20 jaar gelede van die hoë misdaadsyfer in Vereeniging na die stil vakansiedorp van Jeffreysbaai verhuis om veiligheid te soek.

Die afgelope naweek is Johan Marais (62), stigtersvoorsitter van die Jeffreysbaai-veteraanmotorklub, in sy huis doodgeskiet.

“Is dit nie net so ironies nie?” het Michelle den Hoed, oudste dogter van Marais, Sondag hoorbaar verslae gesê.
Marais se kleinkind het hom Saterdagoggend omstreeks 02:20 wakker gemaak om te sê daar is ’n vreemde geluid op die onderste verdieping van die huis.

Marais het ondersoek gaan instel en homself tussen rowers en hul ontsnaproete bevind. ’n Wilde stoeigeveg het tussen die rowers en Marais uitgebreek, waarna enkele skote op Marais afgevuur is.

Hy is op die toneel dood.

Den Hoed het Sondag gesê sy glo haar pa se “helde-optrede” is die rede hoekom haar ma, ouma en haar suster se kinders almal veilig in die huis was. “My pa het gebaklei om hulle lewend te hou. Daai mans was daar om seer te maak en my pa het sy alles gegee om sy familie te beskerm.”

Volgens Den Hoed is dit ook hoe sy haar pa sal onthou. “My pa was vreeslik lief vir plante, veteraanmotors en veral sy kleinkinders. Hy het alles saam met sy kleinkinders gedoen.

“My pa was net ’n werklike goeie mens. Ek en my ma het hom altyd geterg deur hom Gawie te noem, want hy sou enigeen help, of jy ’n vriend of vreemdeling was.”

Santa, Marais se vrou, was Sondag steeds getraumatiseer, maar het ook Marais se liefde vir sy kleinkinders en motors beklemtoon. “Ons almal en die hele dorp was so lief vir hom,” het Santa gesê.

Volgens Coen van Beek, sekretaris van die veteraan-motorklub, was Marais ’n dinamiese en gewilde mens. “Almal in Jeffreysbaai het geweet as hulle iets van ’n ou motor wil weet, kan hulle met Johan Marais gesels.

“Sy gunstelingmotor was ’n Triumph Davdon Drophead Speedster van 1947 wat hy die afgelope paar jaar besig was om te restoureer. Dit is enig in sy soort in Suid-Afrika.”

Ook Carl Trahms, ’n vriend van Marais, het Sondag gesê “Johan was ’n legend in die dorp. Hy was baie entoesiasties oor ou motors, met baie liefde vir sy familie. Die hele voorval is net so hartseer.”

Trahms sê die voorval het hom laat besef hoe “ontspanne” hulle in die vakansiedorp leef en dat hulle meer voorbereid op misdaad moet wees. “Ons, die polisie en plaaslike sekuriteitsmaatskappye moet daadwerklik ’n plan maak om saam te werk. Die feit is misdaad gebeur en ons moet saamstaan.”

Intussen het kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, die inhegtenisneming van drie verdagtes vir Marais se moord bevestig.

Swart sê die polisie het enkele minute ná die voorval ondersoek ingestel. “Gemeenskapslede het die polisie laat weet van verdagte mense in hul agtererf en die polisie het daarin geslaag om een man wat vermoedelik by die voorval betrokke was, vas te trek.”

Die polisie het verdere leidrade opgevolg en nóg twee mans by hul huise in Oceanview aangekeer.
Die drie verdagtes sal Maandag in die landdroshof in Humansdorp op aanklagte van moord, huisbraak en diefstal voorkom.

Den Hoed sê sy en haar susters is van plan om Maandag die hofsitting by te woon.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!