Stook die Regering rassisme aan? – Solidariteit vra sowaar dié vraag

ʼn Paneel, bestaande uit bekende Suid-Afrikaanse denkers, het vandag tydens ʼn bespreking by ʼn konferensie wat deur die vakbond Solidariteit gereël is, gewys op die teenstrydigheid wat geld by die hantering van voorvalle van rassisme in Suid-Afrika en het in die verband die regering se aandeel daarin uitgewys. Hierdie paneelbespreking vorm deel van Solidariteit se nasionale veldtog teen rassisme.

Die paneel het bestaan uit die joernalis en skrywer R.W. Johnson, die menseregte-aktivis Rhoda Kadalie, advokaat Mark Oppenheimer van die Bridge Group en die regskenner prof. Koos Malan van die Universiteit van Pretoria.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is hierdie paneelbespreking belangrik om die heersende narratief oor rassisme in Suid-Afrika, in oënskou te neem. “Daar heers duidelike dubbelstandaarde wanneer dit by rassisme in Suid-Afrika kom met politieke leiers en mense in posisies van mag wat nie aanspreeklik gehou word vir rassistiese uitsprake jeens ʼn sekere groep nie. Hierdie tendens staan in skrille kontras met die maatreëls wat deur die komitee vir die uitwissing van alle rassediskriminasie (CERD) daargestel is juis om politici en mense in magsposisies verantwoordelik te hou vir hul uitsprake,” het Hermann verduidelik.

Rhoda Kadalie het tydens die bespreking gestel dat die sukkelende regering en ander politici besig is om ʼn vyandige rassediskoers en rassespanning in Suid-Afrika aan te wakker. Die diskoers bring nóg kohesie nóg vooruitgang voort sonder dat werklike kwessies soos armoede daadwerklik aangepak word.

In aansluiting by Kadalie het Johnson op sy beurt gesê dat die slakkepas waarteen die ekonomie groei tot enorme frustrasie onder die publiek lei, terwyl ʼn regerende party wat op sy laaste bene is “wit monopolie-kapitaal” as mobiliseringstegniek gebruik om só steun te probeer werf. In die proses word rassisme as weerligafleier gebruik om die aandag van sy mislukkings af te lei.

Volgens Mark Oppenheimer is dit ook belangrik om daarop te wys dat die geskiedenis aantoon dat rassistiese uitsprake en haatspraak werklike gevare vir mense inhou. “Dit terwyl mense in gesagsposisies die rassekaart sonder weerga speel om sodoende aandag van hulself af te lei, soos duidelik gesien kon word aan pres. Zuma se uitsprake ná die onlangse optogte teen hom,” het Oppenheimer bygevoeg.

Kadalie het haar toespraak afgesluit deur te stel dat die media ook ʼn wesenlike rol speel om die rassediskoers aan die lewe te hou. “Fokus op die goeie stories van mense uit verskillende rassegroepe wat hard werk om te keer dat Suid-Afrika faal,” het Kadalie bepleit.


Enjoyed this post? Share it!

 
  • Johan van Tonder

    Ja hulle doen, en die media en sekere mense op sosiale media