Stortingsterrein by Carletonville in ‘toksiese toestand – wat het julle verwag met ons SA regime

Die DA het die waarnemende munisipale bestuurder van die Merafong-munisipaliteit (Carletonville, Fochville en omstreke) verlede week by die Groen Skerpioene verkla oor die “toksiese toestand” van die Rooipoort-stortingsterrein by Carletonville.

Dié verwikkeling kom maande nadat die waarnemende munisipale bestuurder, Langa Thibini, en Daniel Hobe, die uitvoerende bestuurder: gemeenskapsdienste, in April vanjaar geskors is oor die toestand van die Rooipoort-stortingsterrein.

Hobe was egter in Mei terug in sy pos nadat regter Rob Lagrange in die arbeidshof in Johannesburg bevind het dat sy skorsing onregmatig was.

Thibini is intussen ook terug in sy pos geplaas, maar is van tyd tot tyd nie by die werk nie.

Ina Cilliers, die DA se kieshoof in Merafong, sê Thibini se “sporadiese afwesigheid oor weke” dompel Merafong in ’n algehele krisis.

Romeo Mohaudi neem waar.

Cilliers sê Mohaudi is in dié hoedanigheid by die Groen Skerpioene verkla omdat die toestand van die stortingsterrein sedert April nie verbeter het nie.

Die probleme wat die Gautengse departement van omgewingsake vroeër uitgewys het, duur voort:

Daar is geen opgeleide personeellede of toesig by die stortingsterrein nie.
Daar is geen veiligheid nie.
Die weegbrug werk nie.
Water dam op omdat daar nie vloedwaterstelsels is nie.
Die stortingsterrein is nie omhein nie.
Rommelherwinners woon op die terrein.
Daar is geen struktuur om omgewingskade te beperk nie.

Cilliers sê die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling moet vinnig ingryp omdat die toestand by die Rooipoort-stortingsterrein baie ernstige gevolge vir menselewe en die omgewing inhou.

“Geen van die vullis op die terrein is afgeskort in strukture wat omgewingskade verminder nie,” sê Cilliers.

“Daar ontstaan sporadies brande oor die hele terrein. Daar is nou meer as 200 mense wat op die terrein woon wat blootgestel is aan staande water, toksiese walms en ongesonde woonomstandighede.”

Cilliers sê die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling moet vinnig ingryp omdat die toestand by die Rooipoort-stortingsterrein baie ernstige gevolge vir menselewe en die omgewing inhou.

Andile Gumede, adjunkdirekteur van korporatiewe kommunikasie van die departement van landbou en landelike ontwikkeling, het by navraag gesê hulle is bewus van die Merafong-munisipaliteit se “nie-nakomingskwessies” met die Rooipoort-stortingsterrein en sal die nodige regstappe doen om die probleem op te los.

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!