Strawwe uitdagings wag vir Ramaphosa en sy leierskap

Die sogenaamde Top Ses van die ANC is netjies verdeel in drie Ramaphosa-mense, en drie Zuma-mense.

Alhoewel Cyril Ramaphosa wel met ‘n klein meerderheid teen Nkosazana Dlamini-Zuma tot president van die ANC verkies is, is sy adjunk, David Mabuza, met ‘n groter meerderheid verkies. Alhoewel Mabuza die sogenaamde “eenheidskandidaat” gepropageer het, word hy as ‘n Zuma lojalis gesien.

Die magtigste posisie in die ANC, dié van sekretaris-generaal, gaan na Ace Magashule, wat as Vrystaatse premier sterk bande met die Guptas het. Jesse Duarte is sy adjunk en is ook ‘n Zuma lojalis.

Ramaphosa se twee steunpilare is Gwede Mantashe, wat nou voorsitter van die party word, wat meer as ‘n seremoniële posisie gesien word, en wat hom in daardie opsig sy stemreg ontneem as hy ‘n onpartydige voorsitter wil wees. Die ander Ramaphosa-man is die nuwe tessourier-generaal, Paul Mashatile.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus leier, sê daar wag strawwe uitdagings vir Ramaphosa en die wyse waarop hy dit hanteer sal bepaal of hy Suid-Afrika sal kan red van verdere verval en ondergang.

Volgens dr. Groenewald moet Ramaphosa dadelik vyf stappe moet neem:

  • Hy sal Jacob Zuma moet laat herroep voor Februarie 2018 en sorg dat hyself die staatsrede lewer op 8 Februarie 2018. As president van die land sal hy dan beslissend moet optree en dadelik die regterlike kommissie na staatskaping laat aanstel soos voorgestel deur die verslag van die destydse Openbare Vervolger (OB).
  • Hy moet die hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), Shaun Abrahams, ooreenkomstig die jongste hofbevel vervang met ʼn bevoegde en onpartydige persoon soos adv. Thuli Madonsella.
  • Hy sal Zuma moet repudieer oor gratis hoër onderwys om vals verwagtinge en die druk op die tesourie te verwyder.
  • Hy moet die kernkragprogram dadelik vries en alle onsekerheid daaromtrent verwyder.
  • Hy sal sy kabinet moet skommel en al die onbevoegde (vrot appels) ministers vervang met bekwame ministers.

Deur: Die Vryburger


 

Enjoyed this post? Share it!