Suid-Afrika kan nog ‘n afgradering verwag

Die graderingsagentskap Moody’s het gewaarsku dat dit nie goed gaan in Suid-Afrika nie, en ekonome vrees ‘n verdere afgradering van die land se ekonomie.

Dit volg kort op die nuus dat die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se jongste verslag ook verdoemend is. Op die WEF se ranglys het Suid-Afrika met veertien plekke geval en beklee nou die 61ste plek uit 137 lande.

VF Plus se adv. Anton Alberts sê dit versterk die indruk dat die ANC besmet is met ʼn ernstige siekte aangesien daar net mislukking is in elke faset van die samelewing waar die ANC-regering inspraak het of inmeng

Hy sê dit is insiggewend dat die WEF nie doekies omdraai nie en dit uitspel dat korrupsie, misdaad, diefstal, die onstabiliteit van die regering, hoë belasting, burokratiese rompslomp en ʼn swak werksetiek in die arbeidsmag die redes vir Suid-Afrika se ekonomiese kreeftegang is.

“Meer kommerwekkend is die feit dat basiese onderwys en gesondheid, waar die grootste deel van die land se begroting veral aan onderwys bestee word, as feitlik van die swakte in die wêreld gereken word en op nommer 121 uit die 137 lande geplaas word.

“Wat gesondheid aanbetref is dit algemeen bekend dat daar ʼn chroniese tekort aan medisyne en goeie praktisyns is, en die meeste staatshospitale herinner eerder aan slagpale as aan hospitale.

“Die enigste fasette waar Suid-Afrika wel vooruitgang toon, soos die grootte, gesofistikeerdheid en innovasie van die sake-omgewing, is die dele waar die privaatsektor die bydraes lewer en presteer ten spyte van die ANC-regering se swak beleid en gedurige inmenging.

“Die feit dat Rwanda, ʼn Afrika-land wat enkele jare voor Suid-Afrika se oorgang na demokrasie in ʼn burgeroorlog vernietig is, Suid-Afrika op die ranglys verby gesteek het, is ʼn goeie aanduiding van hoe sleg die ANC die land bestuur,” sê adv. Alberts.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!