Suid-Afrika se grootste kleinhandelaar, Shoprite staak landwyd

Duisende werkers by Suid-Afrika se grootste kleinhandelaar, Shoprite, sal Vrydag staak oor ʼn tekort aan “geslagstranformasie” en veiligheid vir vrouewerknemers.

Die vakbondfederasie Cosatu en die kommissie vir geslagsgelykheid (CGE) steun die beskermde staking waarby 30 000 lede van die South African Commercial, Catering and Allied Workers’ Union (Saccawu) betrokke is.

Die CGE het Donderdag gesê hy het kennis geneem van mediaberigte wat aandui dat ʼn landwye staking vandag deur Saccawu-lede by Shoprite gehou sal word. “Die CGE steun die staking. Hierdie ondersteuning word gerugsteun deur die kommissie se eie studies oor geslagstransformasie in die kleinhandelsektor. Die CGE glo daar is nog die minimum gedoen om aandag te gee aan geslagstransformasie in die werkplek.”

Die kommissie het gesê hy het die departement van arbeid versoek om onmiddellik ʼn ondersoek te doen na Shoprite se versuim om aandag te gee aan kwessies in die werkplek wat die welstand van vrouewerkers affekteer.

“ʼn Gebrek aan veilige en betroubare werknemervervoer vir vroue wat lang ure werk is ʼn reuseprobleem. Vroue word aan hul eie lot oorgelaat en word sodoende blootgestel aan aktiwiteite wat ʼn negatiewe impak op hul menswaardigheid het.”

Die CGE het gesê geslagstransformasie en die aantal vroue wat in bestuursvlakposte aangestel word, is steeds ʼn groot probleem in die Suid-Afrikaanse werkplek.

Saccawu se lede eis ook dat onlangse veranderinge in werksure omgekeer moet word en dat werkers wat ontslaan is omdat hulle geweier het om by die nuwe rooster in te val, weer aangestel moet word.

Ander eise sluit in gewaarborgde minimum werksure vir deeltydse werknemers en veilige vervoer vir werkers wat nagskof werk. Saccawu het gewaarsku sy lede sal op ʼn “volskaalse staking” gaan as Shoprite, wat 2 689 afsetpunte in 15 lande bedryf, sy eise ignoreer.

Shoprite het intussen in ʼn verklaring bevestig dat ʼn staking deur werknemers vandag dienste by Shoprite- en Checkers-winkels kan beïnvloed. “Die groep is teleurgesteld dat klante moontlik nie die vlak van diens sal ervaar wat die groep graag wil lewer tydens die spitstyd van die feesseisoen nie, maar die groep respekteer werknemers se reg om op ʼn vreedsame en wettige manier te betoog,” lui die verklaring.

Shoprite het gesê die groep ag dit as ʼn prioriteit om die besware van die werknemers te bespreek en op gepaste wyse op te los. “Gebeurlikheidsplanne is beraam om winkels oop te hou en handel so normaal as moontlik te laat voortgaan.”

Cosatu het op sy beurt gesê hy steun die een dag staking ten volle. Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, het ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om solidariteit te toon met die stakende Shoprite-werknemers.

“Ons kan nie bekostig om ons feesseisoen te vier terwyl die mense wat aan ons ʼn diens lewer by die meeste van hierdie kleinhandelaars verkeerd behandel word nie.”

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!