Suid Afrikaanse Boere gadvol vir ‘gekkeparadys’ oor grond

Die georganiseerde landbou behoort glad nie met die regering te onderhandel oor hoeveel van hul grond afgestaan moet word nie, want voordat boere hulle oë uitvee, kan hulle alles verloor.

Só sê ’n groep rebelse boere en verteenwoordigers van boereverenigings in KwaZulu-Natal oor kommersiële landbou-organisasies se pogings tot dusver om hul eiendomsreg te beskerm.

Die boere het Vrydag in Winterton vergader om druk op Agri SA en ander organisasies te plaas om hulle te verset teen wetswysigings wat volgens hulle boere se eiendomsreg, en hul reg om te beskik oor hul grond, bedreig.

Dit volg op die publikasie van onder meer die Wetsontwerp oor die Bewaring en Ontwikkeling van Landbougrond, waarvolgens boere onderwerp sal word aan bepalings oor waarmee hulle mag boer.

Die staat wil ook ’n nuwe waardeerder-generaal aanstel wat sal bepaal hoeveel boere vir hul onteiende grond betaal word.

Die staat wil ook die grootte van plase beperk.

Meer as 20 vergaderings van gegriefde boere is reeds landwyd deur boereverenigings gehou.

‘LANDBOU-ORGANISASIES MOET WAKKER SKRIK.’
“Ons doel is om steun binne bestaande strukture te werf om groter weerstand te bied teen die regering se ideologies gedrewe beleidsveranderings,” sê James Ralfe, ’n organiseerder van die vergadering en lid van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu).

Rapport het die vergadering bygewoon, waar boere baie huiwerig was om by naam aangehaal te word.

Op voorwaarde van anonimiteit het talle boere gesê hulle word ’n rat voor die oë gedraai.

“Ons word gepaai met stories dat daar groot vordering gemaak word deur middel van regstreekse onderhandelinge met die regering en dat alles onder beheer is. Ons sluk nie meer die stories nie,” sê ’n beesboer van Estcourt.

“Daar is al hoe meer weerstand onder boere oor landbou-organisasies se hand-om-die-blaas-verhouding met die regering en hul naïwiteit oor die regering se ware bedoelings,” sê nog ’n beesboer van Winterton.

“Ons is moeg daarvoor om as regs gebrandmerk te word wanneer ons krities is oor landbou-organisasies se sagte benadering.

“Landbou-organisasies soos Agri SA moet wakker skrik.

“Die sentiment onder boere is dat hul bestaande strategie heeltemal te kort skiet en hulle te passief is. Uiteindelik kan daar ’n skeuring in die georganiseerde landbousektor op hande wees indien die landbou-organisasies nie ’n beter strategie ontwikkel nie.”

Ander boere stem saam met Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), dat landbou-organisasies meer aggressief en proaktief moet wees oor die regering se pogings om hulle aan ’n lyntjie te hou.

Cronjé was Vrydag die hoofspreker en het reeds voorleggings by meer as 20 boereverenigings gemaak. Hy voer elke keer aan dat die regering die kommersiële boerderysektor wil nasionaliseer.

Cronjé het Vrydag aan die boere gesê hy is bekommerd dat landbouorganisasies die SAIRV se ontledings verwerp. Die ontledings wys dat die regering voorgee om grondhervorming te gebruik vir swart bemagtiging, maar in werklikheid poog om landbougrond in staatsbesit te kry.

Uiteindelik kan hulle als verloor en sal boere verplig word om vir die regering te werk, waarsku Cronjé.

“Ek en my se­nior beleidskollegas dink landbouorganisasies is verkeerd oor die regering se bedoelings en hulle is verkeerd om te dink dat openhartige gesprekke en onderhandelings met die regering kan werk,” sê Cronjé.

“Landbou-organisasies moet hul naïwiteit beëindig, skerpsinnig wees oor die regering se ware oogmerke en ophou om te onderhandel volgens ’n verwysingsraamwerk wat deur die regering gestel word,” het hy aan boere gesê.

Hy het bygevoeg dat landbou-organisasies tot nou toe nie opgewasse was teen die propaganda teen boere nie, asook teen ’n groep binne die ANC wat wetgewing op ’n verraderlike wyse instel om hulle van hul grondregte te ontneem.

Al die regering se wette, konsepwette en beleidsdokumente oor landbougrond moet saam as ’n “definitiewe aanslag” op private eiendomsreg beskou word.

“Die openbare mening is nie aan boere se kant nie en die ongelooflike beswaddering van boere deur ’n goed georganiseerde drukgroep is heeltemal onaanvaarbaar.

“Die landbousektor behoort ’n baie meer gesofistikeerde beeldpoetsveldtog te hê om dit teen te werk,” sê Cronjé.

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende hoof van Agri SA, sê hy verkwalik Cronjé.

“Cronjé is besig met ’n doelbewuste en persoonlike veldtog om Agri SA met halwe waarhede te diskrediteer en boere se emosies op ’n onverantwoordelike Malema-agtige wyse op te jaag. Hy maak ons verdag met kritiek wat heeltemal ongegrond is.

“Agri SA weet presies waarmee die regering hom besig hou en ons het voortdurend aksies om boere se saak te stel. Ons het ’n skoon rekord wat ons onverbiddelike beskerming van eiendomsreg betref. Ons het nog elke keer wetgewing teengestaan wat eiendomsreg ondermyn.

“Ons maak juis R50 miljoen vir ’n hofsaak bymekaar om die regering te stop om buite die Grondwet hieroor op te tree,” sê Van der Rheede.

“Ons werk saam met die regering waar dit nodig is, soos om die verspreiding van voëlgriep te keer, droogtes te bestuur en opleiding vir opkomende boere te verseker. Dit beteken nie dat ons nie sterk standpunt inneem waar ons lede se regte gekompromitteer word nie,” sê hy.

Herman de Wet, streeksvoorsitter van die Transvaalse Landbou-unie in KwaZulu-Natal, sê dié unie het nog altyd geweier om met die regering te onderhandel oor hoeveel grond afgestaan moet word.

“Om die oorgawe van net een hektaar te bespreek is om die deur oop te maak om alles te verloor.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!