“Suid Afrikaanse boere moet grond deel – of alles verloor” – Zimbabwe se Commercial Farmer’s Union (CFU)

Zimbabwe se Commercial Farmer’s Union (CFU) het wit boere in Suid-Afrika aangemoedig om hul grond met hul swart landgenote te deel – of die risiko te loop om soos hul Zimbabwiese eweknieë gewelddadig van hul grond verwyder te word, berig News24.

Volgens die koerant New Zimbabwe het Peter Steyl, CFU-president, gesê dat dit beter sal wees as wit boere in Suid-Afrika nou van hul grond weggee eerder as om die risiko te loop om later alles te verloor.

“Ek sal vir hulle sê: dit is beter om nou ’n bietjie te gee as om alles te verloor as dinge te ver gaan,” sê Steyl.

Steyl het die Suid-Afrikaanse regering gewaarsku om nie dieselfde paadjie as Zimbabwe met sy grondhervormingsprogram – wat volgens hom tot die land se ekonomiese ondergang gelei het – te volg nie.

“Ons was arrogant. Ons het gedink hulle sal nooit die grond vat nie, want ons was te belangrik vir die ekonomie.

“Jy dink nooit dit sal gebeur nie, totdat mense gewapen met kapmesse by jou deur is,” het Steyl volgens die berig aan Reuters gesê.

Pres. Robert Mugabe en die regerende Zanu-PF-party het die omstrede grondhervormingsprogram in 2000 bekend gestel. Hulle het die plase in wit besit afgeneem om swart landsburgers wat nie grond besit nie, te hervestig.

Mugabe het destyds gesê die grondhervorming is daarop gemik om die wanbalans van koloniale grondbesit uit te wis.

Minstens 4 000 wit kommersiële boere is van hul plase verwyder.

Die grondbesetting was dikwels gewelddadig en het die lewens van verskeie wit boere in botsings met Zimbabwe se militêre veterane geëis.

Die grondhervormingsprogram het die skuld gekry vir lae produksie op die plase aangesien die meeste van die begunstigdes die middele en vaardighede ontbreek om die grond te bewerk.

Intussen het Ben Gilpin, die CFU se waarnemende direkteur, Zimbabwe se minister van finansies, Patrick Chinamasa, se stelling dat sy regering $134 miljoen betaal het aan die wit kommersiële boere wat van hul grond verdryf is, betwis, het Voice of America berig.

Gilpin sê nie een van die boere is vergoed nie.

“Ons het nie betalings gesien of gehoor daarvan by dié met wie ons in kontak was nie. Ons sal moet vasstel waar die betalings gemaak is,” sê Gilpin.

Daar is berig dat Zimbabwe wit boere vir die grond wat hulle verloor het, vergoed het en dat die regering die eiendomme begin waardeer het.

“Dit [die vergoeding] is vir my ’n verpligting volgens ons grondwet,” is Chinamasa destyds aangehaal.

Deur: Netwerk 24/Skrywer nie genoem


Enjoyed this post? Share it!