Suid Afrikaanse Ekonomie ‘in ’n paar wittes se hande’ – Jeff Radebe

Suid-Afrika se ekonomie is “in die hande van ’n paar wit mense, hoofsaaklik mans” en die volgende stap is radikale ekonomiese transformasie.

Só sê Jeff Radebe, minister in die presidensie, wat Saterdag ANC-lede in Port Shepstone, KwaZulu-Natal, toegespreek het.

“Die meeste van ons mense het nog nie ekonomies gevorder nie. Baie swart mense is uitgesluit. Ons land se ekonomie is in die hande van ’n paar wit mense, hoofsaaklik mans. Dis is hoekom ons nie huiwer as ons sê radikale ekonomiese transformasie is in hierdie land nodig nie,” het Radebe gesê.

Radebe het gesê demokratiese en politieke vryheid is reeds gewen, maar die volgende stap is om die ekonomie te transformeer “sodat dit in die hande van die meeste swart mense, die jeug, diegene in plattelandse gebiede en vroue kan wees”.

“Hiervoor moet ons alles in die stryd werp,” het hy gesê. “Dit gaan oor radikale sosio-ekonomiese transformasie.”

Hy het gesê hoewel die ANC-regering sedert 1994 baie vordering gemaak het, is mense ontevrede oor die gebrek aan transformasie in die ekonomie.

“Omdat ons nie die ekonomie radikaal kon transformeer sodat dit die meeste Suid-Afrikaners bevoordeel nie, het dit groei gestriem, ongelykheid vermeerder en die uitsluiting en marginalisering van die meerderheid van ons mense laat voortduur. Dit kan nie so aangaan nie,” het hy gesê.

Radebe, wat een van die kandidate is om pres. Jacob Zuma aan die einde van jaar as leier van die ANC op te volg, het ook daarna geskimp dat hy gereed sou wees om hierdie rol te vervul: “Soos ek vandag voor julle staan, sê ek dat ek gereed staan om te dien, gereed om my moue op te rol en gereed om die verskil te maak wat ons wil sien,” het hy gesê.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!