Suid Afrikaanse regering het mynbou vernietig – Guptas wen

Statistieke Suid-Afrika het verlede maand bevind dat na landbou, mynbou die enigste ander bedryf is wat ‘n groei getoon het, en dus bygedra het dat die land nie dieper in die resessie ingegly het nie.

Net soos die bedreigings teen landbou, is die regering nou ook met ‘n doelbewuste program besig om mynbou te verlam en uiteindelik te vernietig.

Die verantwoordelike minister, Mosebenzi Zwane, beplan om toekomstige myntransaksies te vries. Hy het onder die dekmantel van ‘volhoubare ontwikkeling’ voorgestelde regulasies in die staatskoerant gepubliseer wat alle myntransaksies voortaan sal vries in ʼn bedryf wat in 2016 onder hewige aanslae steeds 8% van die land se bruto binnelandse produk gelewer het.

Daar word gevra wat die motief agter die onredelike optrede mag wees.

Adv. Anton Albertsvan VF+ glo dit is ʼn blatante poging om mynaandele te verswak vir oorname deur die Guptas en ANC-regering en is niks anders nie as hoogverraad nie, en noem dit “sluip-onteiening”.

“Dit is duidelik ʼn beleid teen die belange van die land en sy mense en is oënskynlik ongrondwetlik omdat dit werksgeleenthede gaan vernietig en dus die reg tot waardigheid van talle mense gaan aantas. Dit kan beskou word as ʼn vorm van indirekte onteiening weens die swaar beperkinge wat op die aandele van myne geplaas word.

“Daar sal geen nuwe beleggings in die bedryf wees nie wat broodnodige werkskepping in die wiele sal ry. Hierdie aksie is trouens teenstrydig met die onderneming van Malusi Gigaba, minister van finansies, se onderneming om ingevolge sy 14-punt plan stabiliteit te bring na die mynbousektor.

“Hierdie opskorting van transaksies in die mynbedryf sal die waarde van mynaandele drasties laat verswak. Sodra die beperking weer gelig word, sal die Guptas en hul uitgebreide ANC-netwerk in staat wees om talle myne oor te neem teen ʼn groot winskoop.

“Wat Zwane in effek doen is dieselfde as wat Eskom gedoen het met die Optimum-myn deur die myn effektief in bankrotskap te dwing sodat die Guptas die myn kon koop met Eskom-voorskietfondse. Die VF Plus twyfel nie dat dieselfde hier beplan word nie,” sê adv. Alberts.

Bron: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!