Suid-Afrikaanse Weerdiens bevestig die storm wat verwoesting saai was tornado

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het bevestig die storm wat groot dele van Johannesburg, Krugersdorp en Mpumalanga Maandag getref het was inderdaad ’n tornado.

“Ons het foto’s en berigte ontvang van ’n tregterwolk wat vanuit die stormstelsel ontstaan het. Dié wolk het aan die grond geraak met sterk wind, dus word dit as ’n tornado geklassifiseer,” sê Mbavhi Maliage, weervoorspeller by die SAWD.

Omdat die gebied waar die storm gewoed het groot is, is dit moeilik om te bepaal waar presies die tornado voorgekom het.

Maliage sê dit is nie ongewoon vir tornado’s om in dié gebiede voor te kom nie.

“Verlede jaar het ons die tornado in Tembisa gehad, so dit is definitief iets wat ’n mens saam met sterk donderstorms kan verwag.”

Vier sterftes is tot dusver bevestig. Buiten die drie mense wat in padongelukke dood is, is een persoon, wat saam met twee mans skuiling in ’n groot stoorkamer in Krugersdorp gaan soek het, omstreeks 17:00 dood toe die stoor se dak en mure ineengestort het, luidens ’n verklaring deur Netcare911.

Die 30-jarige man het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

’n Man (27) het ernstige beserings opgedoen en is per helikopter na ’n gespesialiseerde trauma-eenheid in Johannesburg geneem.

’n Derde persoon (40) het matige beserings opgedoen en is per ambulans na ’n nabye hospitaal geneem.
[Drie mense het skuiling gesoek in die stoorkamer wat later ineengestort het weens die storm. Foto: Netcare911]

Drie mense het skuiling gesoek in die stoorkamer wat later ineengestort het weens die storm. Foto: Netcare911

Insp. Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die Ekhuruleni-metropolisie, het Dinsdagoggend bevestig dat hoofweë wat Maandag in Ekhuruleni weens oorstromings gesluit was, weer oop is vir verkeer.

Dié hoofweë wat weer oopgestel is, is die N3 in albei rigtings tussen die Linksfield-afrit en Elandswisselaar, die R21 tussen die Olifantsfontein- en Rietfonteinafrit, die R24 tussen die Gillooly’s-wisselaar en die R21, die R59 by die Kliprivierafrit, asook die M2 tussen Cleveland- en Refineryweg.

Mokheseng sê bome wat oor verskeie paaie in Kempton Park geval het, is reeds teen Dinsdagoggend verwyder.

Verkeersligte in Boksburg was Maandag buite werking as gevolg van ’n substasie wat aan die brand geslaan het in Jetpark.

Mokheseng kon teen Dinsdagoggend nie bevestig of dié verkeersligte steeds buite werking is nie.

Enjoyed this post? Share it!