Suid-Afrikaners is siek en sat vir plaasaanvalle

Die enjins het hard gedreun op Sondagmiddag, 8 Oktober, toe die 911 Riders vanaf Bela-Bela tot op Modimolle gery het om ’n memorandum aan die polisie te oorhandig om hulle aan te moedig om plaasmoorde te keer. Dié groep motorfietsryers het regdeur Limpopo gery en 21 polisiestasies besoek. Hulle het altesame 2 100 km afgelê. Op hul Facebook-blad skryf hulle dat die groot verwelkoming op Modimolle ná 700 km op die pad die trane laat loop het. Talle inwoners het hulle net buite die dorp se ingang ingewag.

Groot kanonne van die Demokratiese Alliansie (DA) het verlede week dorpe in Die Pos se lesersgebied besoek as deel van ’n landwye feitesending oor plaasmoorde.

Annette Steyn, DA se skaduminister van landbou, Dianne Kohler-Barnard, die DA se adjunkskaduminister van po-lisie en Desiree van der Walt, kiesafdelingshoof in die Waterberge, het inwoners, lede van die gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en sakelui van Modimolle en Bela-Bela op Vrydag, 6 Oktober, ontmoet om dié toenemende probleem te bespreek.

Kohler-Barnard het tydens die vergadering op Modimolle gesê die kanse is goed dat die land in 2019 deur ’n koalisie-regering regeer gaan word. Dié regering sal dan die kastaiings uit die vuur moet krap. “Ons wil hoor wat werklik aangaan. Daar is baie emosie by plaasaanvalle betrokke. Ons wil by die ware feite uitkom sodat ons werk daarvan kan maak om beleid en wet-gewing voldoende aan te pas,” het Kohler-Barnard gesê.

Steyn het gesê landbou gaan deur ’n baie moeilike tyd met die voëlgriep-epidemie, droogte en plaasaanvalle. Sy het gesê die departement van landbou is nie opgewasse vir hul taak nie en dat dinge ál meer agteruitgaan. Kundigheid gaan verlore en die departement se begroting word jaarliks gesny. “Ons verloor boere teen ’n kommerwekkende tempo. Dit sal beslis ’n impak op voedselsekerheid hê, het sy gesê.

Die afvaardiging het ook met die Heri-tage Protection Group (HPG) vergader. “Ons is beïndruk met hul suksesse. Hulle het vanjaar reeds 75 inhegtenisnames gehad en elkeen van dié mense is agter tralies,” het Kohler-Barnard gesê. “Hulle werk nou saam met die polisie, want hulle besef die gemiddelde konstabel het nie die kennis om ’n saak aan die hof voor te lê nie,” het sy bygevoeg. Sy glo privaat veiligheidsfirmas is die toekoms. “Ons sien dat julle effektiewe en georganiseerde gemeenskapspolisiëringsforums het en dat lt.kol. Jan Scheepers, adjunkprovinsiale kommissaris erns maak van veiligheid op plase,” het sy gesê.

Keith Boehme, ’n lid van die GPF-sektor 3 op Modimolle, het gesê die effektiewe werk wat die GPF doen, stel die HPG in staat om misdadigers vas te trek en te vervolg.

“Ons is dikwels die eerste mense op die toneel. Tydens noodgevalle kry ons binne ’n kort tydperk soveel as 60 voertuie en 150 lede bymekaar om te help soek en paaie af te sper.” Een van sy bekommernisse is dat GPF-lede geen regte het nie, soos om byvoorbeeld voertuie van die pad af te trek. Steyn het geantwoord een van die kwessies wat ondersoek moet word, is dat boere dikwels in hegtenis geneem word en hul wapens gekonfiskeer word indien hulle iemand uit selfverdediging geskiet het.

Barend Pienaar, kringhoof van die GPF op Modimolle, het gesê hy stem nie saam dat 98% van alle aanvalle deur buitelanders gepleeg word nie. “Tydens die aanval op Piet en Tilla van Zyl van Roedtan is agt mense in hegtenis geneem waarvan ses Suid-Afrikaners is. Vier mense was betrokke by die aanval op Cecil en Pattie Peterson tussen Modimolle en Bela-Bela en drie van hulle is ook Suid-Afrikaners. Dié aanvallers se inligting is baie akkuraat. By die Van Zyl’s was hulle in staat om ’n ingewikkelde veiligheidstelsel te systap,” het hy gesê.

Hy is skepties oor die polisie se plaaslike veiligheidsplan wat onlangs bekendgestel is. “Dit is nie ’n plan nie — daar is geen voete op die grond om die probleem op te los nie. Hoekom is die GPF nie daarby ingesluit nie? Ons is dan die eerste mense op die toneel?” wou hy weet. Kohler-Barnard het beaam dat die plan nie doeltreffend is nie.

“Boere werk voldag. Ons moet ook nou snags plase patrolleer en op krisisse reageer. Dit eis sy tol,” het Pienaar bygevoeg.

Die plaaslike veiligheidsplan is weer tydens die Bela-Bela-vergadering bespreek. “Die polisie bevind hulself in ’n moeilike situasie. Die plan is eerder ’n verklaring van voorneme as ’n plan. Daar word nie juis uitgebrei oor hoe en wat uitgevoer moet word nie. Daarom kyk ons nou na gapings in die huidige veiligheidstelsel en maniere hoe plaasveiligheid opgeskerp kan word,” het Kohler-Barnard gesê.

“Ek het al gehoor mense sê ‘ten minste is niemand dood nie’. Dit is ’n siek mentaliteit, want mense het al té gewoond hieraan geraak,” het sy gesê. “Mense moet weet wat hul vuurwapenregte is en wanneer hulle mag skiet.”

Kol. Lindie Marx, stasiebevelvoerder op Bela-Bela, het gesê ondervinding in die polisie is aan die uitsterf.

Sy het gesê meer hulpbronne soos voertuie en bekwame beamptes is ’n groot behoefte.

Inwoners het gesê hooftoegangsroetes moet gemoniteer word en dat misdadigers wat skotvry uit howe stap, ’n probleem is. Buitelanders wat die land ongehinderd binnekom, is ook ’n groot kopseer.

Deur: Die Pos


Enjoyed this post? Share it!