Suid Afrikaners se Staatspensioen verswak om SAL te red

Die regering mag nie toegelaat word om die staatsdiens se pensioenfondse te verswak met die verdere aankoop van sukkelende staatsentiteite se aandele om reddingsboeie na van die sinkende entiteite uit te gooi nie,” sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Hy het gereageer op tesourie se plan om R10 miljard van sy aandeel van 39% in Telkom los te maak om die terminale SAL van ondergang te red.

“Ons vermoed die maklikste manier om dit te doen sal wees om die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) te gebruik om die aandele te koop. Die VF Plus sal enige sodanige poging teenstaan. Die aandele van sukkelende entiteite sal nie waarde toevoeg tot die OBK nie en sal net lei tot negatiewe langtermyn-afwatering van die fondse.

“Dit is wat ook in 2015 gebeur het toe die regering sy belang van 14% in Vodacom aan die OBK verkoop het om Eskom te herkapitaliseer.

“Wat gaan die regering volgende verkoop om die SAL soos soveel keer tevore te red? Indien daar nie ingrypende veranderinge by die redery kom nie, kan daar hoegenaamd nie gesien word hoe hy binne die afsienbare toekoms winsgewend kan raak nie en sal daar eersdaags weer gered moet word.

“Die SAL is tans niks anders nie as ʼn bodemlose put wat die fiskus leeg suig,” sê adv. Alberts.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!