Swart Maandag-veldtog is gekaap deur fopnuus

Marie-Louise Antoni skryf oor die gewetenlose metodes wat deur Suid-Afrika se ras-ultragroep gebruik is om die land se rassediskoers te verdraai.

Ná die brutale moord op ʼn Wes-Kaapse boer, Joubert Conradie van Klapmuts, het ʼn hartroerende videoboodskap van sy vriend Chris Loubser soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Loubser, duidelik ontsteld, het op die video gepleit dat iets gedoen moet word om die vlaag van plaasaanvalle en moorde in die land aan te raak.

Sy pleidooi was die inspirasie agter ʼn opmerklik vreedsame landwye protes deur plaasgemeenskappe en hul ondersteuners. Maar, in plaas daarvan om misdaad en die geweld teen die gemeenskap te veroordeel, het sommige Twitter-aktiviste, lede van die media en politici verkies om eerder rassisme en die “wit oppergesag” as die moordenaars aan te vat.

Die organiseerders van die Swart Maandag-veldtog, hul ondersteuners en organisasies soos AfriForum meen plaasmoorde vereis ʼn voorkeur-benadering weens die frekwensie en dikwels blote brutaliteit van dié soort aanvalle. Hulle beweer boere is 4,5 keer meer geneig om vermoor te word as ander burgers en aangesien boere ʼn belangrike rol in voedselsekerheid speel en werksgeleenthede skep, raak boere se lot meer as net hulself en hul gesinne.

Diegene wat nie verblind is deur die openlike vyandigheid nie, was ooggetuies van iets buitengewoons, iets wat selfs as ʼn deurslaggewende oomblik beskryf kon word. Daar het egter vroeg in die dag reeds verskeie foto’s wat die ou Suid-Afrikaanse vlag uitbeeld op sosiale media verskyn. En terwyl dit waar is dat ʼn handjievol van die betogers ou politieke memorabilia gedra het, het dit geblyk dat die meeste van hierdie foto’s nie op die dag van die betogings geneem is nie en dat sommige van die foto’s nie eens van Suid-Afrika is nie.

Só versprei ʼn fopnuusleuen

Dit het alles begin met ʼn gekwetter op Twitter. Sommige joernaliste en redakteurs het die valse nuus net so, sonder enige vrae, aanvaar en die waninligting verder versprei. Suid-Afrikaanse politici is ook nie juis daarvoor bekend dat hulle ʼn goeie geleentheid deur die vingers sal laat glip nie en die rassediskoers is verder deur onder andere Fikile Mbalula, die Suid-Afrikaanse minister van polisie, versprei.

Swart Maandag-veldtog is gekaap deur fopnuus

‘n Skermskoot van die foto’s wat die minister van polisie getweet het. Foto: Politicsweb.co.za

Neem nou maar byvoorbeeld die twee valse nuusfoto’s wat Mbalula na sy 1,1 miljoen Twitter-aanhangers getwiet het. Die foto aan die linkerkant, waar die nuwe Suid-Afrikaanse vlag verbrand word, is in 2012 in Delmas geneem. Die foto aan die regterkant is in Londen tydens die Rooi Oktober-protes in 2013 geneem.

Tumi Sole, ʼn prokureur en Twitter-aktivis, het 50 000 volgelinge. Hy is ʼn EFF-lid en laai gereeld plasings met die gewilde hutsmerk #CountryDuty. Hy het voorheen al bewerings gemaak dat hierdie hutsmerk tot 8 miljoen maandelikse indrukke ontvang.

Swart Maandag-veldtog is gekaap deur fopnuus

‘n Skermskoot van die foto’s wat Sole op Swart Maandag getweet het. Foto: Politicsweb.co.za

Sole het tydens die Swart Maandag-veldtog ook die 2013-foto gedeel wat in Londen geneem is. Hy het ook ʼn foto van ʼn groep mans voor ʼn Oklahoma-kennisgewingbord gedeel wat die Vierkleur en die ou Suid-Afrikaanse vlag vertoon. Die eerste plasing van die foto is ná ʼn ondersoek by ʼn Facebook-gebruiker in Meyerton, Suid-Afrika, gevind wat dit om 08:10 op Maandag 30 Oktober gedeel het. Die foto het daarna op verskeie platforms en webwerwe oor die hele internet verskyn. Een Twitter-gebruiker het egter opgemerk iets is nie pluis nie en ʼn plasing gedeel waarin hy verduidelik waarom hy dink die plasing en foto is verdag.

Oklahoma is in ʼn tydsone sewe uur agter Suid-Afrika. Die foto is dus nie op Maandagoggend geneem nie. Dit is wel moontlik dat die groep mans vooraf bymekaargekom het om hul steun aan die optog te toon, maar as dit wel die geval was, moet ʼn mens in ag neem dat hulle dan reeds Suid-Afrika se oewers verlaat het.

Die gebruiker wat die oorspronklike plasing gedoen het, het versuim om op versoeke vir meer inligting oor die foto te reageer. Sole het intussen sy plasing van die foto’s verwyder. Hy het egter nie ʼn verduideliking of verskoning aan sy duisende volgelinge vir die plasing gebied nie.

Dit is ongelukkig ook nie die eerste keer dat rasbelaaide inhoud van ʼn twyfelagtige oorsprong op Sole se Twitter-rekening geplaas word nie.

Sole het vroeër vanjaar in ʼn twiet gevra dat ʼn werknemer van FNB (ook bekend as ENB) afgedank word omdat sy, na bewering, die eienaar van ʼn rassistiese Twitter-rekening is wat duidelik ʼn hunkering na apartheid het. TimesLive het berig die twiet is meer as 1 400 keer gedeel. Dit het later aan die lig gekom dat die gebruiker nie ʼn werknemer van FNB was nie en “haar” identiteit kon nooit geverifieer word nie. Die Huffington Post het ook besluit om oor die spesifieke aangeleentheid te berig – so asof dit nuus is en wel in sy politieke afdeling – onder die volgende opskrif: “Apartheid sympathiser has SA Twitter in uproar for saying old SA flag gives her ‘goosebumps’.”

Marc Davies, ʼn redakteur van die Huffington Post, het besluit om baie van die aanstootlike foto’s op die rekening te deel, wat lyk of dit die werk van ʼn internet-trol is. Die berig het ʼn kort vrywaring aan die einde daarvan gehad, wat ook gemeld het die gebruiker is genader vir kommentaar deur Twitter, maar het nog nie teen druktyd gereageer op enige amptelike navrae nie.

Dit blyk dat sommige joernaliste hulself eerder as aktiviste beskou. Hulle dink nie hul groot getal Twitter-volgelinge is ʼn gevolg van hul verbintenis met die media-afsetpunt wat hulle verteenwoordig nie. Terwyl hulle sê hul plasings weerspieël nie die sienings van hul werkgewers nie, geniet hulle die voorreg van openbare vertroue – vertroue wat in hulle geplaas is as die leiers van geloofwaardige en akkurate nuus.

Swart Maandag-veldtog is gekaap deur fopnuus

‘n Skermskoot van die foto’s wat Bauer op Swart Maandag getweet het. Foto: Politicsweb.co.za

Nickolaus Bauer is ʼn eNCA-verslaggewer en sy Twitter-rekening word deur byna 35 000 mense gevolg. Bauer het op Swart Maandag ʼn foto van ʼn paartjie gedeel met die ou Suid-Afrikaanse vlag op hul T-hemde en die foto waar die nuwe Suid-Afrikaanse vlag verbrand word. Nie een van die foto’s is op die dag van die protes geneem nie.

Die eerste foto is deur James Oatway in 2010 in Ventersdorp geneem en die tweede foto van die verbrande vlag is die een wat in 2012 in Delmas geneem is.

Nadat Bauer op die fout gewys is, het hy erken dié foto’s is nie tydens die dag se protesaksies geneem nie en hy “het ʼn ernstige fout gemaak” om dit te deel. Hy het egter bygevoeg “die boodskap bly wesenlik dieselfde” en het dus besluit om ander foto’s te deel.

Ongelukkig is sy fopnuus selfs nog die volgende oggend ʼn paar duisend keer gedeel, terwyl sy onttrekking van die foto’s net ʼn paar keer gedeel is.

Bauer het sedertdien ʼn lofwaardige verskoning geplaas, maar terwyl enigiemand ʼn fout kan begaan, is dit ook so dat ʼn mens nou juis net nóg versigtiger moet optree in die huidige politieke klimaat.

Die kwessie van fopnuus

Die skielike en gekonsentreerde verspreiding van valse foto’s het die indruk gewek dat Swart Maandag ʼn spontane uitbarsting van ʼn klomp rassiste was en nie die noodkreet van ʼn gemeenskap wat moeg vir misdaad is en nie meer in vrees wil lewe nie. Boonop het die gemeenskap die grondwetlike reg op protes.

Skermskote van hierdie ou foto’s het hul weg gevind na verskeie aanlyn nuuswebwerwe soos, weereens, die Huffington Post. Dit terwyl die meeste van die foto’s van sosiale media vals, duplikate of nie aan die protes verwant was nie. Die foto’s is ook geplaas op DispatchLive, The New Age, The Daily Vox, ANN7 en is ook op TV-nuus uitgesaai as deel van ʼn SABC-insetsel, wat nie minder as vier valse foto’s vertoon het nie.

Dit is interessant om daarop te let: Nadat sekere publikasies besef het hulle bevind hulself in gevaarlike fopnuus-waters, het hulle daaropvolgende artikels argieffoto’s, voorraadfoto’s of onverwante historiese foto’s van die vlag bevat om die punt te beklemtoon wat hulle oënskynlik vasbeslote was om te stel.

Regering se kommentaar

Nathi Mthethwa, die minister van kuns en kultuur, het daarna ʼn verklaring uitgereik waarin hy nie net die ou vlag veroordeel het nie, maar ook die verbranding van die nuwe vlag – iets wat natuurlik nie eens plaasgevind het nie.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van kommunikasie, het aan Jacaranda FM gesê die regering respekteer die vryheid van uitdrukking en die reg op protes, maar dit moet op ʼn verantwoordelike wyse gedoen word. “Daar is foto’s van mense wat ons vlag verbrand en mense wat die ou vlag by hulle het en beledigings rondslinger,” het sy gesê.

Die kommerwekkendste kommentaar het sekerlik van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die minister van verdediging, gekom. Sy het aan die SABC gesê: “Die vlag wat verbrand word, is wat my die meeste ontstel het. My siening is dat juis hierdie mense rasseverdeling aanmoedig. Hier is ʼn volk wat geen benul het van wat ʼn oorlog aan ʼn land kan doen nie.”

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se Jonas Sibanyoni verskyn op eTV se oggendprogram, nie om die saak van plaasmoorde te bespreek nie, maar eerder die ou vlag se gebruik. Let wel, die kommissie het voorheen selfs die gebruik van die term “plaasmoorde” as “stereotiperend en verdelend” geag.

Daarbenewens het Sibanyoni ook die verbranding van die nuwe Suid-Afrikaanse vlag (wat nie gebeur het nie) tydens ʼn eNCA-debat veroordeel. Hierdie debat het tussen Sibanyoni, AfriForum se Ernst Roets en The Star se redakteur, Kevin Ritchie, plaasgevind.

“Ek dink wat baie hartseer was van vandag, is dat die diskoers wat begin is vinnig in die kiem gesmoor kon word,” het Ritchie gesê. Hy meen dit moes eerder ʼn “nasiebou-oefening” geword het.

Ritchie het gesê hy praat nie net as redakteur nie, maar ook as Suid-Afrikaner. “Ons is tans besig met stories wat ons verdeel terwyl ons ʼn storie kon gehad het wat almal bymekaar gebring het.”

Swart Maandag-veldtog is gekaap deur fopnuus

‘n Skermskoot van die fotograaf James Oatway se tweet nadat sy foto wat hy in 2010 geneem het weer wyd op Swart Maandag versprei is en selfs op die voorblad van ‘n koerant geplaas is. Foto: Politicsweb.co.za

Tog besluit The Star, die koerant waarvan Ritchie die redakteur is, ʼn dag ná Swart Maandag om James Oatway se foto wat sewe jaar gelede geneem is op die voorblad te plaas.

Ontleding en kommentaar

Ritchie beweer hy is gekant teen die aanhitsing van rassepolarisasie. Hy het gesê hy ondersteun nasiebou, maar nadat hy ook besluit het om ʼn nuuskommentaar neer te pen waarin hy die fiktiewe nuus van die verbranding van die landsvlag kritiseer en boonop stereotiperende en neerhalende taal gebruik om boere te beskryf, is dit moeilik om nie te voel dat hy eintlik maar net nie baie van Afrikaners hou nie.

ʼn Dag ná die massahisterie op Twitter was die nuus ryp vir kommentaar. Ranjeni Munusamy, mederedakteur by Times Media (Tiso Blackstar), het Swart Maandag as ʼn “herlaai van die wit regses” in Suid-Afrika genoem. Sy het gesê die protes vir plaasmoorde was ʼn voorwendsel vir ʼn geleentheid waar diegene wat die afgelope 23 jaar die apartheidsvlag bewaar en hul kinders leer om Die Stem as die trotse volkslied van die wit mense te sing mekaar weer kon vind.

Volgens Munusamy is daar vrugbare grond vir hierdie “wit nasionalistiese herlewing”. “Niks vuur rassisme en die wit oppergesag aan soos swart mislukking nie,” het sy gesê.

Munusamy kon nie daarin slaag om die moord op 50 boere (ʼn verkeerde syfer wat deur haar verskaf is) vierkant te vergelyk met die duisende mense wat jaarliks in Suid-Afrika vermoor word nie.

“Die boodskap van Swart Maandag was dat wit lewens saak maak en ʼn plek van voorreg bly geniet, selfs in die dood.

“Wit nasionalisme moet nooit die ruimte gegee word om te floreer in ons reeds beleërde nasie nie,” het sy geskryf. Munusamy het nie genoem of dieselfde streng interdiksie op swart nasionalisme van toepassing sou wees nie.

Die spook van ʼn boeremonster

Munusamy het nooit die vermoorde boer, Joubert Conradie, by die naam genoem nie. Munusamy het glad nie eens sy dood genoem nie.

Vermoorde boere is gewoonlik naamlose en gesiglose mense wat dikwels weggesteek staan agter die spook van ʼn voormalige skuldige boeremonster. Wanneer verwoestende voorvalle soos die doodskisgeval voorkom, word sulke dade toegeskryf aan alle boere, eerder as aan die misdadigers wat die dade pleeg. Hierdie misdade maak ook voorsiening vir uitstekende klik-aas en opportunistiese politieke strooipoppe.

Suid-Afrika se boere, sowel swart as wit, is ʼn klein minderheid wat ons kos produseer. Die wit boere dra egter gesamentlik die verantwoordelikheid vir kolonialisme en apartheid. Hulle dra hierdie verantwoordelikheid net omdat hulle lyk soos die mense wat sulke historiese misdade gepleeg het en omdat daar die onopgeloste en gemanipuleerde vraag oor grondbesit is.

Omdat ons in onbestendige en politiek ongemaklike tye leef, is dit belangrik om die volgende te beklemtoon: Ons sê nie rassisme bestaan nie, ons sê ook nie dit is nie afgryslik om die ou landsvlag te paradeer nie. Ons sê ook nie dat sommige plaaswerkers misbruik word nie. En ons sê nie dat wit boere alleen die slagoffers van misdaad en geweld in hierdie land en op plase is nie.

Dit is egter nie net ʼn saak van “wit liggame” wat meer as “swart liggame” werd is nie.

Boere staar ʼn onvoorspelbare klimaat, waterskaarste en landgebruikkonflik met mynbou in die gesig. Dan is daar ook die groeiende vraag na onteiening sonder vergoeding. Voeg hierby die geweldige fisieke onsekerheid rakende hulself en hul eiendom en ons sit op ʼn kruitvat.

In teenstelling met wat baie mense ons eerder sou wou laat glo, is hierdie mense ʼn onlosmaaklike deel van die stabiliteit van die land.

Die diskoers tans klink so baie na die viktimisering van die slagoffer en al asof die mense dit verdien het – hierdie selfde diskoers kry heftige teenkanting as geweld teen vroue en kinders bespreek word, of as ʼn mens oor ʼn verkragtingsaak gesels.

Perspektief

Terwyl dit natuurlik nooit ʼn goeie idee is om appels met lemoene te vergelyk nie, bied vergelykings tog soms ʼn perspektief waar daar ʼn gapende kloof in sieninge heers.

Die dag ná die Swart Maandag-veldtog is daar berig dat nog drie boere vermoor is, een van hulle was ʼn swart man. Ek kan nie help om te wonder wat die media sou sê as daar drie joernaliste in een dag vermoor sou word nie. Dit lyk of Suid-Afrika se voedselprodusente eenvoudig net nie dieselfde vlak van kommer of respek verdien nie.

Aan die einde van verlede jaar was die organisasie Reporters Without Borders “hartseer” om te meld dat “minstens 74 joernaliste in verband met hul werk in 2016 vermoor is”. Hierdie syfer is vir joernaliste oor die wêreld en sluit diegene wat doelbewus geteiken is in, sowel as dié wat deur die loop van hul werk vermoor is.

Vergelyk dit met die jongste jaarlikse getal plaasmoorde in Suid-Afrika, wat die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) in 2016-’17 beskikbaar gestel het. Die SAPD se statistieke toon dat 74 plaasmoorde (en 638 plaasaanvalle) gedurende die tydperk plaasgevind het. Volgens die VF Plus dui dit op ʼn massiewe toename van 27,5% en 22,9% vir plaasmoorde en plaasaanvalle onderskeidelik.

Die syfers en die werklike probleem

Dit lyk of Africa Check die jongste syfers van die SAPD aanvaar. Africa Check se studies word dikwels as ʼn soort evangelie gehanteer en wyd plaaslik en internasionaal aangehaal. Terwyl dit blyk dat die organisasie wel goeie navorsing doen, verskaf hulle beslis nie antwoorde nie. Hul gevolgtrekking oor die getal plaasmoorde is “dit is amper onmoontlik om te bereken hoeveel plaasmoorde in Suid-Afrika plaasvind”.

Africa Check se onlangse kritiek is blykbaar te wyte aan die verskillende syfers oor die getal plaasmoorde wat tydens ʼn parlementêre debat in Maart 2017 voorgehou is.

Suid-Afrika se algehele moordsyfer – vir alle burgers – is 34 per 100 000. Tydens dié debat het die VF Plus ʼn plaasmoordsyfer van 133 per 100 000 gegee. Die ACDP het die syfer op 97 per 100 000 geplaas. AfriForum het in Oktober vanjaar ʼn verslag met ʼn syfer van 156 per 100 000 uitgereik.

SAPD se statistieke toon in ʼn tydperk waar daar 57 polisiebeamptes vermoor is, het 74 plaasmoorde in dieselfde tydperk plaasgevind. Akkurate syfers is sekerlik van belang, maar kan ons sommer terselfdertyd erken dat ons ʼn ernstige probleem het?

Sosiale media weerspieël nie die werklike wêreld nie. Sosialemediaplatforms soos Twitter bied eerder ʼn knus maar kommerwekkende eggokamer. Dit is op hierdie plek waar baie joernaliste en redakteurs deesdae hul dae deurbring om op die hoogte te bly van die nuus, te bepaal wat hulle beskou as die algemene openbare gevoel en dan na aanleiding hiervan die nasionale diskoers bestuur.

Hierdie artikel is met die vergunning van die skrywer en die redakteur van Polticsweb vertaal en geplaas. Lees die oorspronklike Engelse artikel op Politicsweb.


Enjoyed this post? Share it!