Ta’ Mossie sterf op 92

Ta’ Mossie sterf

Bloemfontein. – Ta’ Mossie van die “sakkie-sakkie-sakkie-boeredans” is verlede Sondag op 92 jaar dood. Menige danser het langarm geskoffel op die liedjie van Sonja Herholdt, wat deur Anton Goosen geskryf is.

Die liedjie het sy ontstaan in 1978 op die 21ste verjaardagpartytjie van tant Mossie Heyns se seun Michiel gehad.

Die partytjie is in ’n skuur naby Arlington in die Vrystaat gehou.

Goosen se broer, Ben, het daar naby gewoon en is genooi. Goosen is saam daarheen.

Die Waenhuiskrans van die liedjie was ’n fiktiewe plaasnaam, en so ook lang Piet, oom Stefaans, tant Fien en oupa Frans, maar ta’ Mossie en die dansparty was werklik, sê hy.

Haar regte name was Maria Elizabeth.

“Tant Mossie het deur my broer laat weet sy hou van die liedjie, maar dit was eintlik ’n deftige boeredansparty en daar was nie ’n misvloer nie.”

Toe Herholdt eenkeer gaan kuier het vir haar ouma Dol Louw, wat naby tant Mossie gewoon het, is gereël dat sy spesiaal die liedjie vir sy ma sing, sê Michiel.

Die liedjie is ook op sy ma se begrafnis gespeel.

Rialize Joubert, tant Mossie se kleindogter, sê die liedjie het haar ouma spesiaal laat voel. “Sy sou dit bykans elke dag neurie.”

Sy sê haar ouma het die mooiste tuin op Senekal gehad waarin mense graag foto’s geneem het. “Sy was lief vir mense en mense was lief vir haar.”

Tant Mossie het later jare na Potchefstroom verhuis waar sy tot haar afsterwe in ’n ouetehuis gewoon het.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!