Talle glo vasgekeer ná tornado Tembisa tref

Tornado Kaalfontein
Tornado R21
Tornado na Benoni
Mense is glo onder puin in Tembisa aan die Oos-Rand vasgekeer nadat ’n tornado klaarblyklik deur die gebied is.

Chris Botha, woordvoerder van die nooddiens Netcare 911, sê hulle het verneem dat “talle mense onder die puin vasgekeer is waar geboue en behuisingstrukture ineengestort het as gevolg van die tornado”.

Hy kon nie dadelik sê hoeveel mense vasgekeer is en presies waar nie.

 Netcare 911 het net uit Tembisa uit oproepe ontvang, hoewel gebruikers op Twitter ook verwys het na die verskynsels van die “tornado” in Midrand en naby aan die O.R. Tambo-lughawe.

William Ntladi, die Ekurhuleni-nooddiens se woordvoerder, sê die “tornado” het omstreeks 16:40 oor die Phumulani Mall in Tembisa beweeg.

“Die winkelsentrum is erg beskadig. Orals is water en glas op die vloer,” sê Ntladi.
Ntladi sê hulle werk saam met nooddienste en die polisie en is besig met soek-en-reddingsoperasie by die winkelsentrum.

Paramedici van die Emer-G-Med-nooddiens wat op die toneel in Tembisa is, sê paramedici probeer nog om mense te red.

“Vier mense in ’n stabiele toestand is tot dusver hospitaal toe vervoer, terwyl talle ander matig tot ernstig beseer is. Ons is nog nie seker hoeveel mense beseer is nie,” sê Max Cohen, woordvoerder van Emer-G-Med.

“Talle huise in die plakkerskamp naby die Tembisa-hospitaal is ook deur die tornado getref.

Reddingswerkers is tans besig om die mense die red.”

Werner Vermaak van die nooddiens ER24 sê drie mense is lig beseer by die Phumulani Mall.
“Daar word vermoed dat mense beseer is toe hulle skuiling gesoek het tydens die erge wind en dele van die struktuur ineengestort het,” sê Vermaak.

Die SA Weerdiens sê nadat hulle na beeldmateriaal en foto’s gekyk het, lyk dit asof dit ’n tornado kon wees omdat ’n tregterwolk duidelik in die beelde te sien is.

Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!