Tapiokapoeding

Tapioka word van die stysel van die maniok-wortel (casawa-wortel) gemaak, terwyl sago van die sago-palm gemaak word. Tapioka is die groot padda-eiers, sago is die klein padda-eiertjies. Jy kan poeding van beide maak, en jy kan sago ook in kos gooi om dit te verdik, soos by hoenderpastei of beesbredie.

375 ml (1½ k) tapioka
1 l melk
4 eiers, geskei
60 ml (4 E) suiker
1,25 ml (¼ t) sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
250 ml (1 k) appelkooskonfyt
250 ml (1 k) suiker
Bedek die tapioka met koue water, week dit vir 3 uur en dreineer.
Kook die melk en gooi die tapioka daarin.
Roer tot die tapioka gaar en deursigtig is.
Meng die eiergele met die suiker, sout en vanieljegeursel en roer dit by die tapioka-pap in. Werk vinnig en roer vir die vale.
Gooi die pap in ’n gesmeerde oondskottel.
Skep lepeltjies appelkooskonfyt bo-op.
Klits die eierwitte goed styf en klits dan die koppie suiker by. Skep dit bo-op die poeding.
Bak vir 12 minute teen 180 °C tot die skuimpies begin bruin verkleur.

Huisgenoot 28 Maart 2013


 

Enjoyed this post? Share it!