Taxi betogings raak gewelddadig in Pretoria – Ons Verskaf Belangrike Dienste – kan nie verkeersboetes te betaal

“Ons verskaf belangrike dienste. Om ons te vra om verkeersboetes te betaal sou onredelik wees!” So sê ’n taxibestuurder wat homself net as Themba voorgestel het.

Themba was een van die honderde taxibestuurders wat van vroeg Woensdagoggend die paaie by Mabopane en die naburige Soshanguve in die noorde van die stad afgesper en doelbewus stadig gery het uit protes teen verkeersboetes.

“Ons vervoer mense en sonder ons sou die ekonomie lankal platgeval het, want die meerderheid van die land sou nie kon werk nie,” sê Themba.

Die taxibestuurders wil hê Solly Msimanga, uitvoerende burgemeester, moet hul verkeersboetes ophef, want dié boetes verhinder hulle om hul voertuiglisensies te hernu.

Samkelo Mgobozi, Msimanga se woordvoerder, sê dié staking volg op die taxistaking in Julie waar die taxibestuurders ook daarop aangedring het dat hul boetes gekanselleer word.

Mgobozi sê verkeersoortredings sluit in onpadwaardige voertuie, die gebrek aan bedryfslisensies en die op- of aflaai van passasiers op plekke waar daar nie daarvoor voorsiening gemaak is nie.

“Hulle dring daarop aan dat die boetes en verkeersoortredings die eienaars se verantwoordelikheid is en sommige selfs die munisipaliteit s’n, veral ten opsigte van die beskikbaarheid van op- en aflaaisones en bedryfslisensies.

Elias Kobue, ondervoorsitter van die Rustenburg United Local and Long Distance Taxi Association en ’n taxi-eienaar, het bevestig die staking het niks met enige vereniging of eienaar te doen nie.

“As daar probleme is met die taxi self en dit kry ’n boete, sal die eienaar dit sonder probleme betaal. Maar as ’n bestuurder hom sleg gedra, dan is die boete sy probleem,” het hy gesê.

“Wat die bestuurders eis, is dat daar geen gevolge is vir hul onverantwoordelike optrede nie. Hoekom moet ek jou moeilikhede vir jou betaal nadat jy mense se lewe in gevaar gestel het?” wou Kobue weet.

Maria Medupe (56) was een van die gestrande passasiers wat nie werk toe kon gaan nie.

“Dit is vir my ’n groot probleem, want ons veiligheid is op die spel. Kinders kan nie skool toe gaan nie en die strate is onveilig as hulle sonder rede daar rondhang, al is dit net vir ’n dag,” sê sy.
Lesego Tshupo (22), ’n inwoner van Mamelodi, sê hulle het Dinsdagaand kennisgewings gekry, maar sy het nie gedink dit sal so erg wees nie.

“Ek het ’n groot toets wat ek vandag moes skryf. Ek voel moedeloos, want ek was so voorbereid en dit voel nou asof alles verniet was,” sê sy.

Die betoging het later die oggend begin gewelddadig raak en die betogers het motors met klippe gegooi en met stokke geslaan. Taxibestuurders wat nog gewerk het, is uit hul taxi’s gedwing en geslaan.

Metrorail het in ’n verklaring gesê treinspore tussen Mabopane en Soshanguve is onder die Ruth First-brug versper. Treine moes by die Kopanong-stasie omdraai.

“Dit is ’n jammerte dat treine altyd in die visier is wanneer betogers hul misnoeë wys oor kwessies wat niks met Metrorail te doen het nie. Duisende pendelaars word hierdeur verontrief,” sê Lillian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, het bevestig ’n Tshwane-bus is tydens die betoging met klippe beskadig.

“Ons het normale bedrywighede verwag op die eerste skof tussen 04:30 en 10:00. Weens die misdadige voorval omstreeks die middaguur, moes ons ons dienste onttrek,” sê hy.

“Ons betreur die ongerief wat veroorsaak word deur die onttrekking van die busdienste, maar die besluit is geneem om ons bates en die lewe van ons bestuurders, sowel as die pendelaars, te beskerm.”

Sheila Lynn Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer in die Tshwane-metro, het die stakende taxibestuurders se memorandum by Tshwane-huis, die metro se nuwe hoofkantoor in die Pretoriase middestad, in ontvangs geneem.

Sy sê dit sal ’n gevaarlike presedent skep as al die boetes afgeskryf word.

“Vandag is dit die bestuurders wat vir so iets vra, môre is dit die ander padgebruikers. As iemand sterf weens ’n taxibestuurder wat oor ’n rooi lig gery het, is dit moord. Dit kan nie sonder gevolge wees nie,” sê sy.

Sy sal binne 14 dae op die memorandum antwoord.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!