Taxidrywer verbind aan Vryheid-plaasmoord

Van Rooyen PlaasmoordTaxidrywer verbind aan Vryheid-plaasmoord

Hy het glo die mans wat moontlik by die moorde betrokke was, rondgery.

Volgens ’n plaaslike polisiebeampte, wat anoniem wil bly, het die taxibestuurder agt mans uitgewys nadat hy in hegtenis geneem is. Hy sê vingerafdrukke van dié mans is op die toneel gevind.

“Ons is op soek na hulle, maar ons glo hulle het almal te voet gevlug.”

Die groep mans het op 19 April met AK47’s en haelgewere die vier huise op die Van Rooyen-familieplaas deels omsingel, voordat hulle die pa en oupa doodgeskiet het.

Billy, die pa van twee klein seuntjies, het daardie Dinsdagaand geluide gehoor en uitgegaan om te kyk wat aangaan.

Hy is twee keer in die bolyf geskiet.

Terwyl sy vrou, Karlien (37), hom in die huis probeer insleep het, het haar pa, Ronnie, uit sy huis 10 m van hulle s’n gehardloop gekom. Hy is in die linkersy geskiet.

Billy is in die ambulans op pad hospitaal toe dood en Ronnie Woensdagoggend in die hospitaal.

Billy se pa, Lood, is met ’n geweer op die voorkop en die wang geslaan.

Hy is die Woensdagoggend ná die aanval uit die hospitaal ontslaan.

Agt mans wat vier dae lank ná die aanval vir ondervraging aangehou is, is almal vrygelaat nadat bevind is dat hulle niks met die moorde te doen gehad het nie.

Die taxibestuurder sal Dinsdag in die landdroshof in Vryheid verskyn. – Netwerk 24

Enjoyed this post? Share it!