Terroriste bind egpaar vir ure vas tydens plaasaanval in Mpumalanga

’n Egpaar van Jam Tin Creek in Kaapmuiden, Mpumalanga, het Saterdag byna drie ure lank gespook om hulself te bevry nadat hulle helder oordag op hul plaas aangeval en aangerand is.

Sers. Gerald Sedibe, polisiewoordvoerder, sê David (86) en Colleen (84) Elphick het om ongeveer 11:00 by hul plaashek aangekom om die perseel binne te gaan, toe drie gewapende mans hulle oorval het.

“Al drie die verdagtes het klapmusse gedra. Hulle het die egpaar by die huis ingedwing en vasgebind met skoenveters en kabelbinders.

“Die slagoffers is die heeltyd met vuurwapens gedreig. Die vrou is in die aanval met die vuis geslaan, terwyl haar man onder meer met die plat kant van ’n panga geslaan is.

Hulle moes sedert die aanvallers weg is die heeltyd sukkel om los te kom, voordat hulle hulp kon ontbied.

Sers. Gerald Sedibe

“Hy het ook beserings opgedoen van die skoenveters en kabelbinders waarmee hy vasgebind is,” sê Sedibe.

Die rowers het drie vuurwapens uit die Elphicks se kluis gevat, sowel as kontant en ander items, voordat hulle met die buit gevlug het.

“Die egpaar kon hulself eers teen 14:00 bevry. Hulle moes sedert die aanvallers weg is die heeltyd sukkel om los te kom voordat hulle hulp kon ontbied,” sê Sedibe.

Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!