Tiener sterf ná messteek in straat

“Toe ek die skare mense in die straat sien, het ek inmekaar gesak, opgestaan en in die kar gaan wag. Daarna het my skoonseun tot by die toneel gestap om seker te maak dat dit my seun is wat daar in die straat lê.”

Só vertel ’n hartseer Sharon Brynard, ma van Heinrich Brynard wat Saterdag 23 Junie in Jan Fiskaalstraat, Amstelhof kort voor 18:33 doodgesteek is.

“Ek het Saterdag in my huis gesit toe ’n vrou in my straat na my kom roep het. Sy het die nuus kom oordra dat my seun glo gesteek is. Ek het nooit geweet dat Heinrich ’n bynaam gehad het en dat mense hom Kallie genoem het nie. Die vrou het gesê dat dié Kallie my seun is. Ek het toe maar my dogter en haar man, wat agter op my jaart woon, gaan vra om saam met my na die toneel te gaan.

“My buurman het vir ons drie na die toneel gery. Toe ons in die straat kom en ek die skare mense sien, was dit te veel vir my. My seun het nog byna vir ’n uur en ’n half lank geleef voordat die ambulans op die toneel opgedaag het,” vertel Sharon.

“My skoonseun wat toe bevestig het dat dit Heinrich was wat daar in die straat lê, het ook vertel van hoe die bloed by sy nek uitgespuit het. Dit is baie swaar, maar ek sal hom onthou as ’n lieflike en eerlike kind.”

Volgens kapt. Diana Linee, Paarl-Oos se polisiewoordvoerder, is ’n 19-jarige jongman van Amstelhof aangekeer vir die moord.

Hy verskyn Maandag 1 Augustus in die Paarl-landdroshof op aanklag van moord.

“Met die aankoms van die polisie op die toneel het die oorledene in die straat gelê. Blykbaar was die oorledene in die nek gesteek en hy het ook verskeie ander steekwonde tydens die voorval opgedoen. Hy het toe later op die toneel aan sy wonde beswyk,” vertel Linee.

Die motief vir Heinrich se dood is steeds onbekend.

Die polisie maan die publiek om saam te span om misdaad hok te slaan.

* Following several brutal killings in Paarl East over the last few years, another teenager was stabbed and killed on Saturday evening.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!