Tienerma van Koster vas ná sy dogtertjie glo verwurg, verbrand

’n Tienerma van Koster in Noordwes het glo haar babadogtertjie van 18 maande verwurg en daarna probeer om van die lykie ontslae te raak deur dit op ’n vullishoop te verbrand.

Kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in die Koster- en Rustenburg-omgewing, sê die tiener se ma het onraad vermoed omdat sy die kind Maandag laas by hul huis in die Reagile-township gesien het.

“Sy het die baba se 16-jarige ma Woensdag uitgevra oor hoekom sy die meisie nie weer huis toe gebring het nie.”

Die tiener het gesê die kind is by haar vriend se huis, maar die ouma was nie tevrede nie. Die ouma het die polisie gevra om saam met haar na die vriend se huis te gaan. Met hul aankoms daar het die vriend gesê die kind is nie daar nie.

“Die 16-jarige het toe die skokbekentenis gemaak dat sy die baba verwurg het,” het Augoustides gesê. “Sy het probeer om van die lykie ontslae te raak deur dit op ’n nabygeleë vullisterrein aan die brand te steek.”

Die polisie is saam met die tiener na die terrein, waar hulle die oorskot gevind het. Die tiener, wie se identiteit weerhou word omdat sy minderjarig is, is na die polisiestasie geneem. Die polisie ondersoek ’n saak van moord, maar weens die jong ouderdom van die verdagte was dit nie dadelik duidelik hoe die regsproses sal verloop nie.

Augoustides het ’n beroep op mense gedoen om hul naaste welsynsorganisasie te kontak indien hulle bewus word dat ouers nie na hul kinders omsien nie, hulle verwaarloos of mishandel.

“Versoek die ouers om eerder aanneming te oorweeg voordat ’n baba tragies sterf. Talle huise van veiligheid, inrigtings en instansies is beskikbaar waar kinders veilig versorg kan word en uiteindelik vir aanneming beskikbaar gestel kan word.”

Volgens Augoustides is daar net in Rustenburg verskeie plekke soos die Lighthouse Shelter, Grey Help Centre en Môrester.

Deur: Susan Cilliers/Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!