TLU SA Noord bedank publiek vir ondersteuning

Om te kan boer, is ‘n Godgegewe voorreg. Om te kan boer, moet mens positief ingesteld wees. Om te kan boer, moet mens geloof hê. Om te kan boer, moet mens paraat wees. En om te kan boer, moet mens soms maar bietjie dikvellig wees.

Dit is waarom ons kommersiële boere jaar na jaar voortgaan. Hulle het geloof. Hulle kyk op na die lug en kyk waar die wolke vandaan kom. Selfs as die wolke wegbly, word daar voortgegaan en ‘n nuwe jaar en ‘n nuwe seisoen met moed, geloof en hoop aangepak.

So het ons boere van TLU SA die afgelope jaar gedoen. Was dit nie vir die landboubedryf nie, sou die land steeds in ‘n tegniese resessie gesit het.

So sê TLU SA Noord se streeksvoorsitter, mnr. Henk van de Graaf, in ‘n boodskap vir die feesgety.

“Ons boere weet ook wat hulle verantwoordelikheid is: om kos op die tafel te sit, want almal moet eet. Selfs diegene wat voortdurend met ongegronde en onbewysbare veldtogte teen die boere besig is, en hulle beskuldig van gronddiefstal, mishandeling van werkers en wat ook al,” sê mnr. Van de Graaf.

“Daarom wil TLU SA namens al die boere dank uitspreek aan almal wat ons landbouers die afgelope jaar ondersteun het. Nie net deur hulle produkte te gebruik nie, maar ook die sigbare ondersteuning soos tydens die Swart Maandag proteste teen plaasaanvalle, waaraan talle nie-boere ook deelgeneem het.

“Daardie ondersteuning van die gemeenskap, gee ook die boere weer moed om die nuwe jaar met dieselfde ywer as die vorige jare in te gaan. As dit van ons boere afhang, sal daar altyd kos op die tafel wees.

“Ons weet nie wat die nuwe jaar gaan inhou nie. Die kommer oor wat kan gebeur, ook na die regerende party se leiersverkiesing, gaan ons boere nie van stryk laat bring nie. Hulle sal voortgaan met hulle werk waarin hulle gereken word as van die bestes ter wêreld. Ons by TLU SA sal voortgaan om ons boere veilig en volhoubaar op hulle grond te hou, en ons nooi alle onbetrokke boere om saam met ons daarin hande te vat. Ons boere beteken dalk nie veel in terme van koppe wat getel word nie, maar ons beteken baie in gewig as dit by die ekonomiese bydrae tot die land kom, en daarom het ons almal nodig.

“TLU SA se Noordstreek wil almal ‘n besonder aangename vakansie- en feeseisoen toewens. Mag Geloftedag en Kersfees verdiepende ervarings wees wat ons sal versterk in ons geloof en ons visie op ‘n toekoms. Mag die rus vir elkeen krag gee vir die nuwe en dalk veeleisende jaar. En moet nie vergeet om uself te alle tye paraat en veilig te hou nie. Laat die boodskap duidelik en ondubbelsinnig uitgaan dat ons weier om verder deel van die land se siek misdaadstatistiek te word.

“Mag 2018 dan ook ‘n voorspoedige en geseënde jaar wees, met goeie reën en goeie opbrengste dat ons ook daardeur die Naam van ons Vader kan eer,” lui mnr. Van de Graaf se boodskap.


Enjoyed this post? Share it!