Toeris vertel van wittebrood-nagmerrie in Kaapstad – beveel nie Kaapstad as toeristebestemming aan

‘n Pasgetroude paartjie van Singapoer wat op 9 September vanjaar beroof is nadat hul huurmotor in ’n gevaarlike deel van Kaapstad onklaar geraak het, sê hulle sal nie sommer Kaapstad as ’n toeristebestemming aan ander mense aanbeveel nie.

“Dit kan enige plek in die wêreld gebeur, maar dit lyk asof rooftogte op straat algemeen in Kaapstad voorkom,” sê Eddie Ong, wat tydens die aanval op hom en sy vrou ernstig aangerand is.

Hy en sy vrou, Michelle Chang, was op hulle wittebrood en reeds vir sewe dae in die Kaap toe hul huurmotor die Saterdagmiddag op Baden Powell-weg in Mitchells Plain onklaar geraak het.

Die aanvallers het volgens Ong oor ’n sandduin aangestap gekom en ’n klip na sy gesig gegooi.

“Ek was vir ’n oomblik uit soos ’n kers. My vrou se hulpkrete het my wakker geruk,” sê Ong.

Die aanvallers het hom daarna verder aangerand en met hul selfone en kontant weggehardloop.

Nadat Ong tot verhaal gekom het, het hy en sy vrou na die naaste polisiekantoor gery, waar die personeel vir hom aanwysings na ’n hospitaal gegee het.

“Ons is gelukkig dat ons die beproewing oorleef het sonder dat ons geskiet of selfs verkrag is,” sê Ong.

Hy worstel egter met emosies soos angs, woede, vrees en hartseer.

Hy is ook bekommerd dat hy permanente breinskade opgedoen het, aangesien daar steeds swelling aan die regterkant van sy kop is. Hy spreek ’n neuroloog daarvoor.

“Ek raak lighoofdig; iets wat ek nie voor die aanval ervaar het nie.”

Sy ander beserings, wat gebreekte ribbes, kneusplekke aan sy gesig, diep snye aan sy arms en ’n geswelde kniekop insluit, herstel egter goed.

Ong se die Kaapstad-metro moet waarskuwingsborde aanbring om toeriste te waarsku oor plekke met ’n hoë misdaadsyfer.

“Niemand behoort so iets oor te kom of in vrees vir so iets te lewe nie.”

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek die saak en dat vier verdagtes gesoek word.

Niemand is nog aangekeer nie.

Deur: Netwerk24


Enjoyed this post? Share it!