Toeriste van Peru word beroof in Magoebaskloof


Twee toeriste van Peru is Woensdagaand in hul hotelkamer in die Magoebaskloof-hotel in Limpopo beroof. Die inbrekers was binne twee minute in en uit die kamer.

Marthinus Stander, operasionele bestuurder van die hotel, sê die twee vroue is oorval toe hulle omstreeks 01:00 na hul hotelkamer gegaan het.

Die booswigte het die een vrou beveel om op ’n stoel te sit en die ander vrou is vasgehou.

“Hulle is nie met wapens of ’n mes aangehou nie en het geen beserings opgedoen nie. Dit het baie vinnig gebeur. Die inbrekers was binne twee minute in en uit die kamer,” sê Stander.

Hulle het met ’n TV-stel en persoonlike besittings van die twee toeriste gevlug.

Die toeriste is deel van ’n toergroep van Peru. Die groep het Donderdagoggend na die Krugerwildtuin vertrek vir die laaste deel van hul besoek aan Suid-Afrika.

Stander sê lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die diewe se spore gevolg. Die hotel het met ’n veiligheidsmaatskappy gereël om bykomende veiligheidsmaatreëls by die hotel in te stel.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het die voorval bevestig. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Daar was die afgelope paar maande verskeie voorvalle van inbraak by ondernemings in die nabygeleë Haenertsburg. In een van die mees onlangse voorvalle het inbrekers by die grasdak van die Lekwar-restaurant in Haenertsburg ingebreek.

In Junie is Robert (Oki) Turner (66) dood nadat gewapende mans hom en sy vrou, Debbie (66), op hul plaas naby Cheerio Gardens aangeval het. Robert is oorval toe hy ’n waterpomp gaan afskakel het.

In Januarie is Richard en Anita Wiggill ook op hul plaas naby Haenertsburg aangeval. Hulle het bebloed deur die bosse geloop om hulp by bure te kry.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!