Topbestuurder van SAID geskors oor R1 m. – kry bonus van R930 000

‘n Topbestuurder by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wat vir byna ’n jaar lank geskors was weens ’n ondersoek dat meer as R1 miljoen onregmatig in sy persoonlike bankrekening inbetaal is, het ’n bonus van R930 000 gekry.

Dit is in die SAID se jaarverslag vir die 2016-’17-boekjaar bekend gemaak wat Woensdag by die parlement ingedien is.

Dit toon hoe Jonas Makwakwa, die SAID-hoof vir sake- en individuele belasting, asook digitale inligtingstelsels en tegnologie, hierdie bonus gekry het.

Makwakwa word as Tom Moyane, SAID-kommissaris, se regterhand beskryf. Die jaarverslag wys ook hoe Moyane self ’n vergoedingspakket van R4,1 miljoen gekry het.

Luidens die jaarverslag is Makwakwa op 15 September 2016 geskors weens bewerings van verdagte en ongewone kontantdeposito’s en betalings in sy persoonlike bankrekeninge.

Vroeër is berig hoe die Finansiële Intelligensiesentrum op 18 Mei 2016 vir Moyane per brief ingelig het oor sowat R1,6 miljoen wat oor ’n tydperk in die persoonlike bankrekeninge van Makwaka en sy vriendin, Kelly-Ann Elskie, inbetaal is. Elskie het ook by die SAID gewerk. Albei was destyds daaroor geskors.

Moyane het vroeër aan die parlement gesê dat Makwakwa ook deur die Valke ondersoek word.

Luidens die SAID-jaarverslag het Makwakwa weer op 1 November 2017 teruggekeer werk toe nadat ’n interne tugproses, deur die regsfirma Hogan Lovells, hom onskuldig bevind het op ’n klag dat hy nie al sy belange verklaar het nie.

Die totale vergoeding vir alle SAID-topbestuurders het sowat R32,2 miljoen beloop.

Alf Lees, DA adjunkwoordvoerder oor finansies, sê die jaarverslag is stil-stil Woensdag by die parlement ingedien.

Dit toon volgens Lees ook dat ’n totaal van sowat R3 miljoen as bonusse aan uitvoerende bestuurders, wat Makwakwa insluit, betaal is.

“Die feit dat dit blyk dat geen bonus aan (Moyane) self uitbetaal is nie, dui aan dat hy bewus was van die regsvereiste dat die minister van finansies bonusse aan hom en die res van die topbestuur moet goedkeur.

“Ten spyte daarvan, het hy voortgegaan en astronomiese bonusse aan senior bestuurders te betaal soos die R930 000- bonus aan Makwakwa wat nog deur die Valke vir moontlike geldwassery ondersoek word.”

Volgens Lees sal die DA nou hierdie nienakoming ondersoek en die SAID deeglik ondervra as hulle volgende week Dinsdag voor die staande komitee oor finansies in die parlement verskyn.

Lees sê die jaarverslag is ook later as die sperdatum van 30 September ingedien “weens ’n dispuut tussen die SAID en die ouditeur-generaal (OG) met betrekking tot die uitbetaal van hierdie bonusse”.

“Volgens die OG verteenwoordig die nie-nakoming ’n betekenisvolle tekort aan interne beheermaatreëls wat ’n materiële nie-nakoming veroorsaak het.”

Dit is omdat die SAID ingevolge wetgewing goedkeuring van die minister van finansies moet kry vir die bonusse.

“Die SAID het nouliks ’n gekwalifiseerde oudit vrygespring en dit is aanduidend van die institusionele verval by die inkomstediens.

“Die voortdurende institusionele verswakking en skandale wat die SAID onlangs geruk het, vererger die moontlikheid van ’n belastingopstand. Dit is die laaste ding wat ons in Suid-Afrika nodig het gegewe dat ons reeds deur ’n belastingtekort van R50,8 miljard in die gesig gestaar word,” sê Lees.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!