Tornado oor groot dele van die Wes-Rand saai verwoesting

Tonele wat Suid-Afrikaners gewoonlik net op televisie sien, het sedert Maandagmiddag in Johannesburg afgespeel. Carien Grobler, redaksielid van Netwerk24 wat aan die Wes-Rand woon, gee haar indrukke nadat ’n tornado oor groot dele van die stad verwoesting gesaai het.

Ons het geweet swaar weer is op pad. Hael, het die weerkantoor gesê. Die swart wolke op pad huis toe het my egter geensins bekommerd gestem nie.

Toe my motorhuis se deur agter my toegaan, het ek die eerste dakteëls hoor val. ’n Paar minute lank was dit chaos met my huiswerker wat in die agtergrond hardop bid en huil. En toe is alles stil.

Die verwoesting wat in dié kort tydjie aangerig is, is moeilik om te glo. Dakke is afgeruk, mure het omgewaai, vensters is uitgeslaan. Bome is ontwortel, kragpale is omgewaai en tafels, stoele en springmatte is oor mure gelig en stukkend geslaan.

Toe kom die nuus – twee skole aan die Wes-Rand, een waar my kind in gr. 2 is, is erg beskadig. Histeriese ouers het in verkeersopeenhopings gesit en wag om uit te vind of hul kinders ongedeerd is. Minute waarin ’n ma oud word en ’n andersins bedaarde pa in trane uitbars.

Hoewel die Laerskool Muldersdrif in Ruimsig en die Laerskool Protearif in Krugersdorp onveilig verklaar en tot verdere kennisgewing gesluit is, is geen kinders ernstig beseer nie.

Ons mense gee hoop

Wat my in dié tyd opval, is hoe die gemeenskap na mekaar uitreik.

Aan die Wes-Rand het mense pas ná die storm op Facebook- en WhatsApp-groepe hulp aangebied.

“As enigiemand verblyf nodig het ná vandag se haelstorm, kontak my gerus. Ek sal my gastehuis in Chancliff (Krugersdorp) gratis oopstel,” het Elsa Erasmus op Facebook geskryf.

Ander het aangebied om matte gratis droog te maak, bome af te sny en rommel weg te ry.

Die Laerskool Protearif in Krugersdorp is swaar deur die storm getref.

Ouers en lede van die gemeenskap het hulself beskikbaar gestel om met opruimings- en herstelwerk by skole te help. Verskeie mense het ook aangebied om kinders in te neem wie se ouers Dinsdag moes gaan werk.

Intussen het inwoners, wat reeds met herstelwerk aan hul huise begin het, onder meer dakplate aangebied sodat mense wat in townships deur die storm geraak is, hul huise daarmee kan herstel. Mense met ondernemings wat herstelwerk doen, bied hul dienste teen afslag aan, terwyl kontrakteurs mekaar uitdaag om groter skenkings aan die beskadigde skole se noodfondse te maak.

’n Vriendin laat weet vanoggend my kinders kan by hare se oppasser kom bly as ons vasbrand, ’n kollega bel en sê hy het ’n groot huis, ons moet by hom intrek totdat ons huis herstel is. Nog een bied ’n warm bord kos aan.

Terwyl ons vanoggend die rommel bymekaarmaak en planne vir herstelwerk in plek sit, is daar ’n silwer randjie om ’n donker wolk. Ongeag al die trauma en skade, gee ons gemeenskap nog vir mekaar om.

“Ek en my kêrel wil graag enigiemand help wat in nood verkeer ná gister se storm,” skryf Sarah-Leigh Brown op Krugersdorp Community Forum.

“Ek is goed met my hande en hy is ’n loodgieter. Ons neem af by die werk en gaan rondry om te kyk waar ons kan help.”

Hierdie soort mense gee my hoop.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!