Transnet vertraag aspris klas aksie eis in die hoop dat eisers (pensionarisse) uitsterf.

Transnet hoop eiesers sterf uit

Transnet volg ‘n openlike strategie om ‘n klasaksie-hofsaak van R79,5 miljard te vertraag in die hoop dat soveel moontlik van die pensioentrekkers afsterf voordat die eis toegestaan word.

So sê Wynanda Coetzee, prokureur in die enorme eis, na aanleiding van die afsterwe van nog ‘n voormalige spoorwegwerker wat sy laaste jare in siekte en armoede geslyt het.

Coetzee sê Transnet het pas weer allerhande tegniese besware gemaak teen die dagvaarding wat hulle vir die eis uitgereik het, maar die klasaksie sal voortgaan ten spyte van die dood van Johan Kruger wat verlede week aan longkanker dood is.

Kruger het 29 jaar as rangeerder vir Transnet gewerk en regdeur sy loopbaan tot die groep se pensioenfondse bygedra.

Ten tyde van sy dood het sy maandelikse pensioen R1 700 beloop.

Sy weduwee, Annatjie Kruger woon in ‘n buitegebou van weldoeners op ‘n kleinhoewe naby Roodeplaat buite Pretoria.

Haar man was die afgelope maande baie bekommerd oor die uitwerking wat sy afsterwe op die hofsaak gaan hê waarin hy en nog ‘n Transnet-pensioentrekker, Johan Pretorius van Bloemfontein, ‘n klasaksie-eis ter waarde van sowat R79,5 miljoen teen Transnet instel namens sowat 70, 000 verarmde pensioen- trekkers van die vervoerreus, het Annatjie gesê.

Die regspan beweer dat Transnet die pensioenfondse se belangrikste bates ‘skuldbriewe wat ‘n jaarlikse opbrengs van R1,2 miljard opgelewer het ‘ tussen 2002 en 2004 vervreem het.

Sedertdien is die 70,000 pensioentrekkers se jaarlikse verhogings tot 2% per jaar beperk.

Die gevolg is dat 45% van die pen­sioentrekkers vandag pensioene van minder as die staat se maatskaplike toelae van R1, 260 per maand kry.

Enjoyed this post? Share it!