Trump sê hy is nie ’n rassis nie na hy glo na Afrika-lande en Haïti as “sh**hole”-lande verwys het

Pres. Donald Trump van Amerika meen hy is die laaste persoon wat as ’n rassis uitgekryt kan word.

Hy het Sondagaand op ’n vraag van ’n verslaggewer in Florida pertinent gesê: “Nee, ek is nie ’n rassis nie. Ek is die mins rassistiese persoon waarmee jy nog ooit ’n onderhoud gevoer het.”

Dit was die eerste keer dat Trump direk op bewerings van rassisme gereageer het nadat ’n bom gebars het omdat hy glo na Afrika-lande en Haïti as “sh**hole”-lande verwys het.

Dick Durbin, Demokratiese senator, het Vrydag op kamera bevestig dat Trump die stelling herhaaldelik in ’n vergadering in die Withuis gemaak het waar senior verteenwoordigers van albei politieke partye oor immigrasie gepraat het.

Durbin het die opmerking as afskuwelik afgemaak.

Trump het vroeër die dag op Twitter ontken dat hy die stelling gemaak het, maar sê dat hy wel sterk taal in die vergadering geuiter het.

Intussen is die Amerikaanse chargé d’affaires (saakgelastigde en tweede in bevel by die ambassade) in Suid-Afrika deur die Suid-Afrikaanse regering ontbied om Maandag Trump se beweerde uitlating te verduidelik.

Die Suid-Afrikaanse regering beskou so ’n uitlating as “ontstellend en ongevraagd”, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) Sondag in ’n verklaring gesê.

Dirco meld in die verklaring dat hy gemerk het Trump het in sy latere twiet nie “kategories ontken” wat hy gesê het nie. Hy het boonop net na Haïti verwys en gesê hy het nooit neerhalend van dié land se inwoners gepraat nie.

Die saakgelastigde is die mees senior diplomaat in die Amerikaanse ambassade in Pretoria omdat Trump sedert sy inhuldiging as president ’n jaar gelede nog nie ’n ambassadeur in Suid-Afrika aangestel het nie.

Die departement sê Suid-Afrika vereenselwig hom met die Afrika-Unie en die Afrika-ambassadeurs by die Verenigde Nasies in New York, wat ook die beweerde uitlating veroordeel het.

“Die betrekkinge tussen Suid-Afrika en Amerika, en tussen Amerika en die res van Afrika, moet op wedersydse respek en begrip gegrond wees.”

Botswana het ook reeds te kenne gegee hy wil met die Amerikaanse ambassadeur in dié land daaroor praat.

Deur: Reuters


 

Enjoyed this post? Share it!